Lichtenburg-tak gebruik byna 15 ton teer om padveiligheid te verbeter
AfriForum se Lichtenburg-tak het gedurende Junie altesaam 14,5 ton teer, 90 liter SS60 Bitumen en 30 liter verf gebruik om ’n reeks padveiligheidsprojekte suksesvol te voltooi. Die projekte is deur AfriForum se eie span uitgevoer en is moontlik gemaak deur skenkings van die publiek aan die Lichtenburg-teerprojek.
In Greeffstraat is altesaam 18 slaggate opgevul met behulp van 20 sakke teer en 10 liter SS60 Bitumen. Twee spoedhobbels is in Gerrit Maritzstraat op twee verskillende plekke aangebring om padveiligheid te verbeter. Hierdie projek het 100 sakke teer, 40 liter SS60 Bitumen en 30 liter wit padverf vereis.
In Kortstraat, waar die pad voorheen feitlik onrybaar was weens die talle slaggate, is die straat met ’n soliede teerblad van 300 m², wat van sypaadjie tot sypaadjie strek, herstel. Hiervoor is 10 ton warm teer en een 200 liter -drom SS60 Bitumen gebruik.
In Republiekstraat, wat om Laerskool Lichtenburg strek, was daar 48 slaggate herstel. Die skool het 60 sakke teer vir hierdie projek geskenk.
“Die Lichtenburg-tak wil graag elke skenker en betrokkene bedank wat gehelp het om hierdie projekte moontlik te maak. Die gemeenskap se ondersteuning help nie net om die toestand van die dorp se paaie te verbeter nie, maar maak dit ook veiliger vir alle padgebruikers,” sê Pine Pienaar, projekleier en ondervoorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.
AfriForum se Lichtenburg-tak moedig inwoners en ondernemings aan om betrokke te raak by die Lichtenburg-teerprojek. Saam kan ons ’n daadwerklike verskil maak. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog aan te sluit. Vir verdere navrae of om betrokke te raak by toekomstige projekte, kontak Pine Pienaar by 082 371 5312 of Jan Buscop by 082 200 8075.

