|

Nuuskommentaar: Landswye vullisterreinoudit wys munisipale vullisbestuur is ’n hopelose gemors

Suid-Afrika worstel met ‘n voortslepende afvalbestuurskrisis. AfriForum se 2025-vullisterreinoudit wys weereens hoe munisipaliteite nie eens die mees basiese maatreëls vir verantwoordelike afvalbestuur nakom nie. Uit 169 vullisterreine wat vanjaar landwyd geoudit is, het slegs 38, oftewel ’n vyfde, die oudit geslaag. Die oorblywende 131 terreine, wat byna vier uit vyf landwyd verteenwoordig, verkeer in toestande wat die omgewing en gemeenskappe se gesondheid in gevaar stel.

Die nasionale gemiddelde nakomingspunt het effens gestyg van 38% in 2024 tot 42% in 2025, die hoogste vlak wat in die afgelope vyf jaar aangeteken is. Tog is hierdie marginale verbetering kwalik ‘n teken van werklike vordering. Die werklikheid is dat die meeste vullisterreine wanbestuur word en in ’n vervalle toestand is. Die patroon het voorspelbaar geword: Relatief tot die ander provinsies presteer Gauteng en die Wes-Kaap beter, met onderskeidelik 56% en 51% van die terreine wat die oudit slaag. Maar provinsies soos die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap bly vasgevang in ineenstorting, met meer as 90% van hul vullisterreine wat nie aan basiese maatreëls vir verantwoordelike vullisbestuur voldoen nie.

Agter hierdie syfers lê ‘n ontstellende prentjie van munisipale verval en traak-my-nie-agtigheid: weegbrûe wat buite werking is, ’n gebrek aan toegangsbeheer en inspeksie van vragte om te voorkom dat gevaarlike afval soos dierkarkasse en ou motorbande onregmatig gestort word, hope afval wat nie gekompakteer en met grond bedek word nie, brande wat vir dae aaneen aanhou smeul, en masjinerie wat onbruikbaar is. Munisipale personeel is gereeld afwesig, terwyl informele herwinners in onveilige toestande op die terrein woon en werk sonder beskermende toerusting. Dit is nie geringe tekortkominge nie, maar die bewys dat waar munisipaliteite misluk, besoedeling, gesondheidsrisikos en wetteloosheid hoogty vier.

’n Vullisterrein is veel meer as net ’n hoop gemors. Word dit behoorlik bestuur, kan moontlike skade aan waterhulpbronne, die grond, die lug en die gesondheid van nabygeleë gemeenskappe voorkom word. Daarenteen, wanneer ’n vullisterrein swak bestuur word, word dit ‘n direkte bron van besoedeling en siektes. Suid-Afrika se Grondwet waarborg die reg op ‘n veilige en gesonde omgewing, maar die toestand van vullisterreine toon hoe hierdie reg elke dag ondermyn word.

Daarom is AfriForum se ouditbevindings belangrik. Dit bewys dat munisipale mislukking die oorsaak van die probleem is. Afvalbestuur is ‘n basiese funksie van plaaslike regering, maar jaar na jaar wys AfriForum se vullisterreinoudit op dieselfde patrone van verwaarlosing, onbevoegdheid en gebrek aan verantwoordbaarheid. Hoewel verbeterings plek-plek plaasvind, word dit oortref deur die omvang van die krisis. ‘n Slaagsyfer van 22% is niks om te vier wanneer die standaard waarteen sukses gemeet word, bloot die minimum drempel vir verantwoordelike afvalbestuur is nie.

In Gauteng word beraam dat die drie metro’s saam minder as vier jaar se vullisterrein-lugspasie oor het. Sonder dringende ingryping kan dit lei tot ’n ongekende toename in onwettige storting, besoedeling en verhoogde gesondheidsrisiko’s.  

Tog noodsaak hierdie krisis ook gemeenskappe wat nie langer kan aanhou wag vir munisipaliteite wat geen wil of vermoë toon om die stelsel reg te ruk nie, om met innoverende, volhoubare oplossings vorendag te kom. AfriForum se suksesvolle gemeenskapsgedrewe inisiatiewe soos sy eie vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en herwinningsprojekte in Pretoria wys reeds dat alternatiewe moontlik is.

Die toestand van Suid-Afrika se vullisterreine is ’n sigbare maatstok vir die ineenstorting van munisipale dienslewering en die publiek se gebrek aan vertroue in munisipaliteite. As munisipaliteite nie opgewasse is om die minimum maatreëls vir verantwoordelike afvalbestuur na te kom nie, moet die magte om hierdie noodsaaklike taak te verrig na gemeenskappe wat bereid is om die voortou te neem afgewentel word. Sodoende sal die toekoms van Suid-Afrika se vullisbestuur nie ’n hopelose gemors wees nie.

  • De Vaal is ’n omgewingsakeraadgewer by AfriForum.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf