|

Krugersdorp-tak sny gras, kry binnekort nuwe buurtspan ná uitdagings met Mogale City

Die AfriForum-tak in Krugersdorp het aan die einde van Februarie hard gewerk om sekere dele van die dorp, waar gras byna kniehoogte lank gestaan het en motoriste se sig belemmer het, skoon te sny. Die kruising op die hoek van Kameelperdlaan en Sterkfonteinweg asook die kruising op die hoek van Swanevelderweg en Robert Broom-rylaan, is onder meer tydens hierdie aksie gepak.

Die voortslepende uitdagings ten opsigte van dienslewering in dié dorp het die AfriForum-tak genoop om alternatiewe oplossings te vind in plaas daarvan om te wag dat Mogale City Plaaslike Munisipaliteit hul verpligting teenoor die gemeenskap nakom. Daarom sal die tak binnekort ’n nuwe buurtspan stig wat deurlopend sal sorg dat die gras op verskeie dele van die dorp netjies gesny is, vullis wat rondlê opgetel word en net die algemene netheid van die dorp bevorder.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se hoof vir die noordstreek, gaan dienslewering in Krugersdorp geweldig agteruit en die gevolg is dat selfs kleiner takies soos gras sny nie hoog op Mogale City se prioriteitslys is nie. “Ons het vroeër in Februarie ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om ons kommer uit te spreek oor die toestand van die dorp, veral die feit dat parke, kruisings en middelmanne heeltemal begroei is. Bo en behalwe dat dit eenvoudig onnet vertoon is dit ook ’n veiligheidsrisiko aangesien motoriste nie behoorlik kan kyk vir aankomende verkeer nie en dit bied ’n gerieflike wegkruip- en wegsteekplek vir misdadigers.”

Die skrywe wat AfriForum in Februarie aan Mogale City gestuur het versoek onder meer dat daar onmiddellik aandag geskenk word aan die oorgroeide parke, sypaadjies en kruisings; dat openbare groen ruimtes beter bestuur moet word en skoongemaak moet word ten einde misdadigheid in te perk; dat voetoorgange en voetgangerpaadjies bekyk moet word om te verseker dat dit veilig is; en ’n duidelike, langtermyn verbinding om hierdie openbare ruimtes te onderhou ten einde te verhoed dat dit weer handuit ruk.

“Ons wil graag opnuut ’n hand van samewerking na Mogale City uitsteek. Ons besef dat totale verval slegs voorkom kan word as ons saam werk aan ’n skoner, netjieser en veiliger omgewing,” sluit Steinberg af.

AfriForum ondersoek ook die moontlikheid om ’n samewerkingsooreenkoms met Mogale City te sluit en is gereed om gesprekke met belanghebbendes hieroor te voer.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings