|

Krugersdorp-tak eis dat onwettige rioolstorting onmiddellik stop

AfriForum se Krugersdorp-tak het ’n versoek aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig om die onwettige rioolstorting op die hoek van Naude- en Schoemanstraat onmiddellik stop te sit. Dit volg ná ’n besorgde tak-lid op 3 April waargeneem het hoe riool in die stormwaterafvoerpyp ingepomp word.

Hierdie optrede blyk ’n kortpad te wees in plaas daarvan om die korrekte prosedure te volg, dit hou egter ernstige gevolge vir veral die omgewing en inwoners van Krugersdorp in. AfriForum sê dat die munisipaliteit blitsig moet optree om die betrokke partye te identifiseer en hulle aan die pen te laat ry. 

Voorts moet die munisipaliteit ook terugvoer gee oor die planne wat hulle in plek het om die skuldiges verantwoordelik te hou en hoe hulle onwettige stortings van hierdie aard in die toekoms gaan verhoed.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, doen ’n beroep op die munisipaliteit om die nodige maatreëls in plek te sit om hierdie stortings te verhoed. “Ons sal die situasie deeglik dophou om toe te sien dat die munisipaliteit doen wat hulle moet om die gemeenskap teen verdere risiko’s te beskerm. Indien daar nie gehoor gegee word aan ons versoek nie, sal ons nie skroom om oor te gaan na ernstiger stappe nie.”

Die munisipaliteit het tot 11 April om te reageer op AfriForum se skrywe.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en só ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings