Krane in Delportshoop al byna vier maande lank (byna) leeg – AfriForum eis nou optrede van NK-premier
Die krane op Delportshoop in die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit het reeds nagenoeg vier maande gelede drooggeloop – en daar waar daar wel nog water is, is dit maar drupsgewys en totaal onvoldoende. AfriForum het in die lig van dié voortslepende watervoorsieningskrisis nou die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, genader om dringend in te gryp.
Die huidige waterprobleme op Delportshoop volg ná ’n waterpyp in November verlede jaar deur ’n kontrakteur se vragmotor beskadig is. Sedertdien is verskeie strate in dié dorp, insluitend Kruger-, Buys-, Rivier-, Bredenkamp-, Selzer-, Pretorius- en Saamloopstraat sowel as Alphaweg, sonder enige of in sekere gevalle onvoldoende water gelaat.
Van die hoof van tegniese dienste in dié munisipaliteit se vele beloftes rakende die herstel van watertoevoer het daar nog niks gekom nie. Daar is oorspronklik aangevoer dat die pyplyn teen 20 Januarie herstel sou wees, maar dit het nie gebeur nie. ’n Munisipale kennisgewing is intussen versprei om aan te kondig dat herstelwerk op 11 Februarie gedoen sou word, maar ook hierdie beweerde herstelwerk het nog nie verligting vir die geaffekteerde inwoners gebring nie.
Die burgerregteorganisasie het die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, Baakanyang Tsinyane, reeds in Januarie formeel van die ernstige situasie in kennis gestel. AfriForum het by Tsinyane daarop aangedring dat onmiddellike stappe gedoen moet word om waterdruk ten volle te herstel en dat tydelike noodverligtingsmaatreëls, soos die voorsiening van water deur middel van watertenkwaens aan geaffekteerde huishoudings, ingestel moet word.
Tsinyane het egter teen 30 Januarie nog nie op AfriForum se versoek gereageer nie, waarna daar op 5 Februarie ’n opvolgskrywe aan die munisipaliteit gestuur is waarin ’n duidelike opdatering van die munisipaliteit se aksieplan en tydlyn in dié verband gevra word.
Die munisipaliteit se onbereidwilligheid of onvermoë om hierdie noodsituasie te beredder het AfriForum nou genoop om provinsiale regeringslui oor die krisis te nader. ’n Brief is op 13 Februarie hieroor aan Bentley Vass, lid van die uitvoerende raad (LUR) verantwoordelik vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake in die Noord-Kaap, sowel as Saul gestuur waarin hul dringende ingryping by die waterprobleme op Delportshoop geëis word.
Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is die toegang tot water ’n grondwetlike reg. “Die munisipaliteit se voortgesette versuim om hierdie noodsaaklike hulpbron aan die inwoners van Delportshoop te lewer, ontwrig nie net die geaffekteerde mense se daaglikse lewe nie, maar maak ook inbreuk op hul grondwetlike regte,” benadruk Smit. “Dit is noodsaaklik dat alle relevante owerhede onmiddellike regstellende maatreëls implementeer, ’n volhoubare plan aan inwoners kommunikeer en toesien dat watertoevoer ten volle en sonder verdere vertraging herstel word.”
