Klagtes oor Vanderbijlpark-rioolstorting stroom in
Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark doen ’n beroep op die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit om dringend in te gryp by die rioolstorting in Berthault van der Rietstraat in Vanderbijlpark CW5.
Die riool stoot terug as gevolg van die rioolpyplyne in die omgewing wat in duie gestort het weens ’n gebrek aan instandhouding. AfriForum het talle klagtes oor hierdie probleem ontvang.
In ‘n brief wat AfriForum op 12 Februarie aan die Emfuleni-munisipaliteit gestuur het, word van die munisipaliteit versoek om ’n aksieplan op te stel en uit te voer om die rioolpyplyne te herbou; om toe te sien dat die rioolstorting onmiddellik gestaak word; om die geblokkeerde pype oop te maak en om die gebreekte afvoerpype te herstel. Verder word versoek dat die munisipaliteit die besoedelde gebiede skoonmaak. Die munisipaliteit het tot 21 Februarie om AfriForum se eise na te kom.
Indien AfriForum geen terugvoer ontvang nie, sal moontlike regstappe oorweeg word.