Keimoes-skole kry nuwe vullisdromme, danksy AfriForum
Vier Keimoes-skole spog met splinternuwe blou vullisdromme wat die plaaslike AfriForum-tak geskenk het. Die Gekombineerde Skool Keimoes, die Intermediêre Skool Môrelig, die Hoërskool Oranjezicht en die Hoërskool Keimoes sal voortaan in samewerking met AfriForum hierdie vullisdromme skoonhou en die rommel by die vullisterrein stort.
Hierdie skenking van vullisdromme kom ná die voortslepende probleem met onwettige vullisstorting in Keimoes wat dié dorp lamlê en die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit wat dit bloot ignoreer.
Al drie dorpe in die Kai !Garib-munisipale gebied (Keimoes, Kenhardt en Kakamas) staar onwettige vullisstorting in die gesig. Hierdie probleem is al jare lank nie meer op die munisipaliteit se prioriteitslys nie terwyl die plaaslike vullisterreine en vullisverwyderingsdienste in hierdie drie dorpe ook nie op standaard is nie. Dit het tot gevolg dat die dorpe self in sogenaamde mensgemaakte vullisterreine ontaard omdat vullis in die strate ophoop en in openbare ruimtes, soos parke, gestort word.
“Die skole gaan die vullisdromme as metaforiese skilderdoeke gebruik en kuns daarop verf. Hierdie kunswerke sal beelde illustreer wat bewusmaking skep oor die gevare van onwettige vullisstorting op die ekosisteem, natuur en mensdom. Sodoende sal die leerlinge ook ’n sin van netheid en verantwoordelikheid vir hul omgewing en skool aanvaar,” sê Meisie Pool, AfriForum se voorsitter vir die Keimoes-tak.



