|

Kaapse skoliere leer hoe om nié ’n boelie te wees nie

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 21 Mei besoek afgelê by Laerskool Totius en C.L. Wilmot Primary School in die noordelike voorstede van Kaapstad. Minstens 800 leerders het tydens hierdie besoeke oor die nagevolge van boeliegedrag geleer, hoe om dit te identifiseer en hoe om dit te hanteer.

“Talle leerders is nog nie bewus van wat die term ‘boelie’ alles behels nie. Dit is daarom van kardinale belang dat leerders ingelig word oor watter tipes gedrag of aksies as boelie beskou word en wat nie om sodoende boeliegedrag korrek te identifiseer. Dit is ook belangrik dat leerders ingelig word van boeliegedrag sodat hulle die faktore wat daartoe lei, beter kan verstaan en ook sodat hulle sal weet watter stappe om te neem indien hulle slagoffers is van boeliegedrag,” sê Hendrik Bester, skoolhoof van die Laerskool Totius.

Navorsing toon dat omstanders ’n reuse-impak op ’n boelie kan hê. As ander kinders nie vir die boelie lag of toelaat dat dit voortgaan nie, verloor die boelie mag. Dikwels doen kinders niks uit vrees om self ’n teiken te word, maar as ’n groep besluit om op te staan, kan hulle ’n groot verskil maak.

“Boelie-bewusmaking is vir skole baie belangrik. Leerders wat ander boelie besef nie die emosionele skade wat hulle aksies of dade veroorsaak nie. Boeliegedrag veroorsaak soms jarelange trauma en letsels wat kinders nog vir jare lank negatief beïnvloed. In ons omgewing en die gemeenskap waarin ons skool gebaseer is, is daar baie dikwels kinders wat selfmoord pleeg  as gevolg van die boelie wat hulle moet verdra en die emosionele skade wat aan hulle berokken word,” sê Nicolene Klerck, ’n opvoeder by die C.L. Wilmot Primary School.

“Tydens die praatjie leer ons die kinders van die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Meer spesifiek leer ons die leerders om elke dag die skoene van vrede aan te trek, sodat hulle weet wanneer om van ’n boelie weg te stap en wanneer om ander leerders te help. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met hierdie vaardighede toe te rus, sodat hulle gevaarlike situasies in die toekoms kan voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings