Invoertariefskok: ANC moet skuld dra vir Trump-besluit – AfriForum
Video: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum
ANC-leiers en die ANC-geleide regering moet direk verantwoordelik gehou word vir die straf wat die Amerikaanse president, Donald Trump, aan Suid-Afrika opgelê het met die implementering van ’n invoertarief wat aansienlik hoër is as die meeste ander lande s’n. Só meen die burgerregteorganisasie AfriForum nadat Trump laat gisteraand Suid-Afrikaanse tyd nuwe tariewe op invoere na die VSA aangekondig het en ’n sogenaamde “wederkerige belasting” aan Suid-Afrika en nagenoeg 60 ander lande opgelê het weens dié lande se slegte verhouding met die VSA.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, pluk Suid-Afrika en sy mense nou die wrang vrugte van die ANC-leierskap in die regering se roekelose beleidsrigtings en tartende optrede teenoor die VSA. “Hierdie ANC-leiers het hul eie ideologie en belange sowel as dié van hul party bo die belange van die burgers van Suid-Afrika gestel,” verduidelik Kriel.
AfriForum en andere se pleidooie vir ’n rigtingsverandering in Suid-Afrika is gedoen in die belang van die land én sy mense en in ’n poging om strafmaatreëls teen Suid-Afrika en sy inwoners vry te spring. Tog het diegene wat die VSA se griewe teen Suid-Afrika afgemaak het as ’n misverstand wat gegrond is op sogenaamde “misinformasie”, hierdie pogings gekniehalter. “Hierdie ontkenners moet gevolglik ook die skuld dra vir die huidige krisis,” beklemtoon Kriel.
Hy hou vol dat die VSA se strafmaatreëls afgeweer kon word indien die probleme openlik geïdentifiseer en oplossings daarvoor gekry is, en daar derhalwe ’n rigtingverandering in Suid-Afrika teweeggebring kon word.
“AfriForum sal hom aanhou beywer vir ’n rigtingverandering in die land, aangesien dit die enigste manier is waarop die VSA se strafmaatreëls opgehef kan word. Hierdie rigtingverandering behels dat Suid-Afrika die eiendoms- en menseregte van alle mense – ook dié van Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe – moet beskerm. Verder moet die regering die belange van Suid-Afrikaners prioritiseer deur ’n werklik neutrale buitelandse beleid te volg,” sluit Kriel af.