|

Hervat vullisdienste of onthef Mookgophong-inwoners van betaling, sê AfriForum aan munisipaliteit

AfriForum doen ’n beroep op die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit om die vullisverwyderingsdienste in Mookgophong te hervat óf dat inwoners van vullisverwyderingstariewe kwytgeskel word. Dit volg nadat AfriForum se Naboomspruit-tak in samewerking met verskeie gemeenskapslede ingespring het om Mookgophong skoon te maak, terwyl munisipale werkers verlede week Woensdag tot Vrydag weens ’n salarisdispuut gestaak het.

Oor dié drie dae is meer as 2 000 vullissakke verwyder met ’n vyf ton vragmotor (altesaam 19 vragte) wat Charl Heyman, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, beskikbaar gestel is. Daarbenewens is drie sleepwa-vragte met sleepwaens, wat gemeenskapslede Willie Beukes en Dirk Grobler geskenk het, weggery.

AfriForum se Naboomspruit-buurtwag, onder leiding van Hein Stoltz, het ook gehelp om die projek te laat slaag. Phillip en Cecillia Bredenhann van Zero Waste het die inisiatief gedryf en saam met talle ander inwoners gewerk om die dorp se strate weer netjies te kry.

Die vullissakke wat mense en honde op die sypaadjies oopgeskeur het, is ook opgehark en verwyder – ’n diens wat die munisipaliteit nog nooit aan die gemeenskap gelewer het nie.

“AfriForum bedank elkeen wat hul tyd, toerusting en energie gegee het om Mookgophong weer skoon te kry. Julle het gewys wat dit beteken wanneer die gemeenskap kragte saamsnoer,” sê Heyman.

Intussen het AfriForum die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gister in ’n brief versoek om dit sterk te oorweeg om AfriForum die geleentheid te gee om verantwoordelikheid te neem vir vullisverwydering in Mookgophong. AfriForum het al telkemale bewys dat hy in staat is om vullis in dié dorp doeltreffend te verwyder.

AfriForum stel twee moontlike modelle vir so ’n reëling voor:

1. Die munisipaliteit kontrakteer AfriForum om vullisverwyderingsdienste te lewer en vergoed die organisasie vir hierdie dienste.

2. Die munisipaliteit staan ​​korting of vrystelling toe aan inwoners wat kies om van AfriForum se vullisverwyderingsdienste gebruik te maak, waardeur hierdie inwoners in staat gestel word om AfriForum direk te betaal vir betroubare vullisverwydering.

AfriForum is van mening dat enigeen van hierdie benaderings sal verseker dat Mookgophong-inwoners die doeltreffende en volhoubare vullisverwyderingsdienste ontvang wat hulle tereg verdien. AfriForum is daartoe verbind om op ’n konstruktiewe en deursigtige wyse met die munisipaliteit saam te werk om hierdie doel te bereik.

AfriForum bly verbind daartoe om die gemeenskap by te staan waar die munisipaliteit hulle in die steek laat. Hierdie projek is nóg ’n bewys dat georganiseerde gemeenskappe die verskil kan maak waar plaaslike regering misluk.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die oplossing.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf