Haglike toestand van Potchefstroom geen Gekkedag-grap
Potchefstroom se paaie is tans meer slaggat as pad, straatligte werk nie, vullis word onwettig in die dorp gestort en gras in openbare areas is só lank dat dit die ideale wegkruipplek is vir kwaaddoeners. Dít is van die probleme wat AfriForum se Potchefstroom-tak vandag in ’n skrywe aan Kgomotso Kumbe, munisipale bestuurder by die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, uitgelig het. Dié tak sê dat dringende optrede nodig is om hierdie dorp weer reg te ruk.
Volgens artikel 24 van die Grondwet het elke individu die reg tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welstand nie en, volgens die AfriForum-tak, voldoen Potchefstroom nie aan hierdie vereiste nie.
Benewens die gesondheidsrisiko’s wat met die onwettige storting van vullis gepaardgaan, is daar talle veiligheidskwessies ter sprake wanneer dit kom by die toestand van die paaie en straatligte. Sommige paaie is byna ontoegangbaar en hou wesenlike risiko’s in vir motoriste. Voorts is die straatligte wat buite werking is ’n risiko vir padveiligheid en algehele veiligheid vanweë die geleenthede wat die donker vir misdadigers bied om weg te kruip.
Weens die swak infrastruktuur is daar waterpype wat bars wat veroorsaak dat daar liters op liters skoon water verlore gaan. Wanneer die lekke wel herstel word, word die gate nie toegemaak nie, wat veral gevaarlik is wanneer water daarin opdam. Rioollekkasies word nie herstel nie wat daartoe lei dat riool in mense se erwe en selfs in hul huise opstoot wat geweldige implikasies vir die omgewing en inwoners se gesondheid inhou. Talle verkeersligte is buite werking en op verskeie plekke word padtekens deur laaghangende takke versteek.
AfriForum se Potchefstroom-tak het oor die jare egter nie geskroom om in te spring en probleme op te los waar die munisipaliteit misluk nie. Dié tak het in 2024 alleen R60 000 spandeer om slaggate in dié dorp te herstel en het ook al indringerplante uitgeroei, padmerke geverf, skoongemaak in die dorp en water- en rioollekke herstel. Die AfriForum-buurtwag doen ook hul deel om misdaad te bekamp met 200 aktiewe patrolleerders, patrollies elke aand en deur kameras op te rig.
Hoewel die Potchefstroom-tak graag hierdie tipe aksies aanpak om die gemeenskap te help lê die primêre verantwoordelikheid vir hierdie instandhoudingswerk by die munisipaliteit.
“Dit is baie hartseer dat die eens pragtige Potchefstroom in só ’n haglike toestand beland het. Dit is net die ANC wat daarvoor blameer kan word. Daar is net geen wil om dienste te lewer en die dorp netjies te hou nie. Ek is egter baie seker daarvan dat die gemeenskap moeg is vir die huidige stand van sake en die munisipaliteit sal in hulle pasoppens moet wees. Indien die munisipaliteit nie goed reageer op die skrywe nie, sal daar beslis verdere stappe gedoen moet word om ons dorp te red. Die AfriForum-tak het reeds begin met ’n buurtspan om self die dorp reg te ruk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Die munisipaliteit moet binne sewe dae reageer op AfriForum se skrywe met ’n plan oor hoe hulle hierdie probleme die hoof gaan bied. AfriForum het egter hulp aangebied in die vorm van ’n samewerkingsooreenkoms sodat die organisasie die munisipaliteit kan help met kontrakte en instandhoudingswerk. Die organisasie het ook die munisipaliteit aangemoedig om eerder die AfriForum vra in die skrywe dat die munisipaliteit ons binne sewe dae moet voorsien van ‘n plan om hierdie probleme aan te spreek. AfriForum bied ook hulp aan en vra dat die munisipaliteit ‘n ooreenkoms van samewerking met AfriForum moet onderteken sodat AfriForum hulle kan bystaan met kontrakte en onderhoudswerk. Die munisipaliteit word ook aangemoedig om dienste wat hulle tans sukkel om te lewer eerder te privatiseer sodat inwoners waarde vir hul geld kan kry. Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke. Kontak vir Leandra Rootman by 073 886 3520 om by die tak aan te sluit of besoek www.wordlid.co.za.