|

Groenstroke gelykstaande aan drie rugbyvelde deur Teks-buurtspan gepak

AfriForum se Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) het nie geskroom nie om gedurende Januarie groenstroke in Secunda skoon te maak wat weens swaar reën bykans heeltemal deur gras en onkruid toegegroei was. Hierdie span het onverpoos gewerk om areas, wat gelykstaande is aan die grootte van drie rugbyvelde, skoon te maak.

Die buurtspan het gedurende die maand ’n oppervlak van meer as 32 300 m² getakel en die gras gesny, onkruid verwyder en bome gesnoei. Baie van hierdie areas word deur die gemeenskap gebruik, maar weens die swaar reën was dit so te sê onbruikbaar.

“Die werk was nie sonder sy uitdagings nie,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak. “Sommige van die parke en groenstroke moes eers vir ’n tyd lank oorgestaan word omdat dit te nat was. Die plaaslike vullisterrein was boonop ook onbegaanbaar weens die nat toestande.”

Die buurtspan het daarop gefokus om die groenstroke op onder meer Vaalrivierstraat skoon te maak, asook die stroke op Steenkoolspruit-, Rietspruit-, Wolwespruit- en Jansonstraat. Davieshof-tehuis se gronde is ook skoongemaak.

Du Plessis sê die buurtspan is tans besig om die groenstroke op Nelson Mandelarylaan te sny en die omliggende gebied skoon te maak. Die rylaan is een van vele in Secunda wat deur lang gras oorgeneem word.

“AfriForum se Teks-tak skrik nie vir harde werk nie. Terwyl die plaaslike munisipaliteit inwoners erg in die steek laat, sal AfriForum die mas opkom en die gebied instandhou,” voeg hy by.

Besoek www.wordlid.co.za om by die tak aan te sluit en die buurtspan met hul werk te ondersteun.

Soortgelyke plasings