|

Govan Mbeki-munisipaliteit se voldoening aan 95% van DWS-vereistes ’n waanbeeld van werklikheid, waarsku AfriForum

AfriForum benadruk dat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit (GMM) se beweerde nakoming van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Bloudruppel-vereistes ’n blatante waanbeeld van die gehalte van watervoorsiening in dié munisipaliteit skep. Walter Mngomezulu, burgermeester van die Gert Sibande Distriksmunisipaliteit (GSDM, waaronder die GMM ressorteer), voer in ’n mediaberig wat vandeesweek in die Ridge Times verskyn het, aan dat dié plaaslike munisipaliteit ’n nakomingspunt van 95% aan dié DWS-vereistes behaal het.

“Dit is duidelik dat die Mngomezulu se ‘glaspaleis’ in Ermelo hom van die werklikheid verwyder. Terwyl hy die munisipaliteit se kwansuise watersuksesse verkondig, sit inwoners in dié munisipaliteit telkens sonder enige water. Dienslewering hier is beroerd en Mnogomezulu het duidelik nie ’n benul hoe om dinge reg te ruk nie en probeer nou met goedkoop praatjies in die media politieke punte te wen,” verduidelik Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

AfriForum se noodwaterpunte, in dorpe soos Bethal, word gereeld oorval deur mense wanneer waterverskaffing hier tot stilstand geruk word. Om dié sporadiese waternood in die GMM te help verlig, spring plaaslike boere en gemeenskapslede in. Intussen word bejaardes telkens die swaarste getref deur die onbetroubare watervoorsiening.

Te midde van gereelde ernstige watervoorsieningsprobeleme staan die GMM ook apaties en versuim om genoeg watertenks te voorsien. Boonop is daar ook al in die verlede bewyse gelewer van munisipale amptenare se betrokkenheid by die sogenaamde watermafia en gevalle waar munisipale watertenkwaens huiseienaars se water teen betaling opvul.

“Dit is ironies dat, terwyl die burgermeester beweer dat GMM sukses behaal in watervoorsiening, AfriForum se netwerk van noodwaterpunte weer moet bontstaan om in samewerking met boere in die Bethal-omgewing water aan dié dorp se inwoners te lewer,” sê Bekker.

Die oorsaak van die huidige onderbrekings is volgens Rand Water glo weens die onlangse skerp toename in waterverbruik oor die hele netwerk heen. Dit is duidelik dat dié grootmaatwaterverskaffer nie meer kan byhou met die verbruik van munisipaliteite nie.

“Verbruikers kan egter nie alleen die las dra nie. Waterlekkasies in munisipaliteite soos die Johannesburg Metro is die grootste bydraende faktor tot die uitermatige hoë waterverliese in Rand Water se netwerk. Mngomezulu se munisipaliteit moet nou daadwerklik optree, goedkoop politieke praatjies laat staan en hom eerder bepaal by die instelling van werkbare alternatiewe planne om sy distrik se mense in dié krisis by te staan,” sluit Bekker af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik