|

Govan Mbeki-munisipaliteit poog om PAIA-aansoek vry te spring; AfriForum oorweeg regstappe

Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit hoop waarskynlik dat AfriForum se formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan hom ’n stille dood sal sterf. Die organisasie het dié aansoek in Julie aan die munisipaliteit gerig om inligting te bekom oor die reuse- uitstaande bedrae op sommige munisipale amptenare en raadslede se munisipale rekeninge. AfriForum is van mening dat die munisipaliteit tyd probeer koop in die hoop dat die organisasie uiteindelik die versoek om hierdie kardinale inligting te bekom, op hul maag sal skryf. AfriForum gaan egter nie handdoek ingooi nie: Indien die Govan Mbeki-munisipaliteit nie gehoor gee aan die PAIA-aansoek nie sal AfriForum moontlike regstappe teen hom oorweeg.

AfriForum se PAIA-aansoek volg nadat inwoners met uitstaande Govan Mbeki-rekeninge se voorafbetaalde kragmeters geblokkeer word, terwyl dit blyk dat die munisipaliteit nie soortgelyke maatreëls teen sy eie raadslede en werknemers – óók met agterstallige rekeninge – toepas nie. In die aansoek word inligting versoek oor waarom sekere rekeninge toegelaat word om hemelhoë bedrae te beloop, asook waarom sekere skuldenaars verskeie rekeninge het en die agterstallige bedrae tussen hierdie rekeninge verskuif word.

In reaksie op die PAIA-aansoek het die Govan Mbeki-munisipaliteit op 5 September aan AfriForum laat hoor hulle wag op toestemming van die betrokke partye om die inligting te verskaf. Wat egter vreemd is, is dat besonderhede oor die skuldenaars in die Govan Mbeki-munisipaliteit se agterstallige munisipale rekeninge reeds openbare kennis is en in die munisipaliteit se kwartaallikse verslae gepubliseer word. AfriForum het hierna telefonies weer navraag gedoen oor wanneer die munisipaliteit van plan is om op die PAIA-aansoek te reageer en steeds geen duidelike antwoord ontvang nie.

“Jan Alleman moet in die donker sit, terwyl die mense wat hom moet dien, skotvry daarvan afkom as hul rekeninge nie betaal word nie. Ons sal aanhou druk vir die waarheid om uit te kom,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Alhoewel die munisipaliteit ná skrywes van AfriForum oor die kwessie sowat ’n jaar gelede skulderkennings-ooreenkomste met van die skuldenaars aangegaan het, is die proses ook klaarblyklik selektief gedoen. Die inhoud van hierdie ooreenkomste is ook van die betrokke munisipale raadslede en werknemers in die PAIA-aansoek aangevra.

“Hier sien ons weereens dat politieke konneksies veroorsaak dat nie almal as gelyke inwoners behandel word nie. Sommige raadslede kan derduisende skuld en niks word daaraan gedoen nie,” sê Bekker verder.

Intussen word inwoners se voorafbetaalde kragmeters steeds geblok, wat gelei het tot verskeie betogings.

Inwoners wat die veldtog wil steun kan die volgende webtuiste besoek: www.artikels.afriforum.co.za/dubbele-standaarde-van-die-govan-mbeki-munisipaliteit/. Alternatief, besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf