|

Goudstraat in Benoni nou 35 slaggate minder, danksy AfriForum


Die AfriForum-tak in Benoni het in April altesaam 35 slaggate in slegs een straat – Goudstraat in Goedeburg – herstel. Inwoners het 77 sakke teer, oftewel 1,9 ton, vir hierdie groot taak geskenk. Hierdie projek is na-ure in samewerking met die gemeenskap aangepak om die pad weer begaanbaar te maak vir padgebruikers.

In Pattenweg – ’n kombinasie tussen ’n grond- en ’n teerpad in die Jatniel-woonbuurt – het AfriForum se Benoni-tak ’n voertuig, wat in modder in ’n sloot vasgeval het, uitgehaal. Hulle het ook die slote met rivierklippe gevul nadat al die bosse en rommel verwyder is. Verder is die toegegroeide  stormwaterpype in hierdie pad ook skoongemaak en die gate in die pad, wat as gevolg van die groot reën vol water was, is met grond toegemaak.

Daarbenewens het die AfriForum-span ook ’n grootskaalse skoonmaakprojek in ’n parkie in Morehill op die hoek van Normanstraat en Jolin-rylaan aangepak waar rommel verwyder, gras gesny en bome gesnoei is. Ten spyte van koue en nat toestande, was die aksie ’n reuse-sukses. Vrywilligers het rommel opgetel, gras gesny en oorgroeide takke gesnoei om die park weer ’n aangename ruimte vir inwoners te maak.

“Ons het ’n wesenlike probleem in Benoni met agterstallige munisipale dienslewering, en daarom tree ons as gemeenskap in,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum se Benoni-tak beplan om hierdie aksies volhoubaar voort te sit deur gereelde samewerking met inwoners, skenkings en selfdoen-aksies wat infrastruktuur verbeter en veiligheid bevorder.

Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om by projekte van AfriForum se Benoni-tak betrokke te raak of kontak die tak op 084 976 1234.

Soortgelyke plasings