|

GOP: Vryheid se kragnetwerk en paaie kort veral aandag, sê AfriForum

Die AfriForum-tak in Vryheid versoek die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit om Vryheid se onstabiele kragnetwerk en haglike paaie ’n prioriteit in die nuwe finansiële jaar 2025/2026 te maak. Die toestand van die plaaslike begraafplaas is ook ’n teer saak, wat dringende aandag moet geniet. Die tak het op 11 Maart hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot dienslewering op die Abaqulusi-munisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Hierdie tak het al in die verlede sukses behaal met van sy voorstelle wat in die munisipaliteit se GOP opgeneem en afgehandel is, waaronder een van Vryheid se swak paaie wat herbou is. “Dit is dus belangrik dat takke aan die GOP-proses deelneem om voorstelle in te dien wat sal bydrae tot ontwikkeling in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Dienslewering

Vryheid ervaar al vir die afgelope paar jaar gereelde kragonderbrekings, veral op kleinhoewes, wat dit dan ’n teiken vir misdadigers maak. Hierdie onderbrekings het erge implikasies vir dié klein KwaZulu-Natalse dorpie. Sommige ondernemings moes hul deure permanent sluit weens die finansiële implikasies van die voortdurende kragonderbrekings. Die kragonderbrekings is as gevolg van swak instandhouding, daarom moet die Abaqulusi-munisipaliteit pa staan vir sy onvermoë om na die kragnetwerk om te sien en dit ten volle herstel. Wat die paaie aanbetref, stel AfriForum voor dat dele van Vryheid se hoofroetes – Mark-, Emmet- en Suidstraat – herbou word. Verder maak die munisipaliteit die begraafplaas op ’n ongereelde basis skoon, wat gevare vir die gemeenskap inhou met haweloses en misdadigers wat daar skuil.

Dit is kommerwekkend dat 53% – wat neerkom op ’n waarde van R39 miljoen – van die Abaqulusi-munisipaliteit se gesuiwerde water volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag verlore gaan. “Hierdie verlies kan net aan onwettige koppelings en hoofsaaklik lekkende waterinfrastruktuur toegeskryf word,” sê André van der Walt, AfriForum se takvoorsitter vir Vryheid.

Besteding

Volgens die OG se verslag was die totale inkomste vir die Abaqulusi-munisipaliteit R733,64 miljoen in die 2022/2023 finansiële jaar, waarvan R477,4 miljoen deur die munisipaliteit gegenereer was. Die Nasionale Tesourie se webtuiste dui aan dat die eiendomsbelastinginkomste vir 2023 en 2024 onderskeidelik R99 miljoen en R120,6 miljoen was. Hierdie fondse kom van eiendomseienaars en is vir tipiese nie-faktuureerbare dienste soos om slaggate en straatligte te herstel, en sypaadjies en parke in stand te hou.

Die OG-verslag wys dat die munisipaliteit tydens die 2022/2023 finansiële jaar altesaam R552,6 miljoen se uitgawes verkeerdelik geallokeer het, wat waarskynlik aan wanbesteding toegeskryf kan word. Dit behels R250,1 miljoen se ongemagtigde uitgawes, R289,9 miljoen se onreëlmatige uitgawes en R3,6 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes wat aangegaan is.

Luidens die verslag van die OG word daar niekompterende en onregverdige aankope gedoen. Sleg 6,1% van die begroting was aan onderhoud gespandeer, terwyl die Nasionale Tesourie 8% aanbeveel. AfriForum is bekommerd dat die lae spandering aan onderhoud aan masjienerie en ander toerusting tot die huidige swak dienslewering bydra.

AfriForum beplan binnekort ’n openbare vergadering om toekomsplanne vir samewerking met die gemeenskap te bespreek om die probleme in Vryheid aan te pak. Dit is tyd dat die gemeenskap hande vat om hul dorp se verval om te keer. Die AfriForum-tak wil tydens hierdie vergadering ook nuwe komiteelede werf wat sal help op Vryheid tot sy volle glorie te herstel.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings