Gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek kry momentum
Die gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek wat in Mei 2024 in die Barolong Boo Seleka koninkryk by Thaba’Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat afgeskop het toon sterk groei met negentien boklammers (tien rammetjies en nege ooitjies) wat sedertdien gebore is. Die aanvangskudde van 21 Nguni-inheemseveldbokke (twintig ooie en een ram) het gevolglik tot veertig aangegroei. Hierdie lampersentasie van 95% vir die seisoen is nóg ’n sukses van die gesamentlike landboutontwikkelingsprojekte wat deur die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka in samewerking met AfriForum en ander rolspelers in die landbouwaardeketting sedert 2020 in die Thaba’Nchu-gebied aangepak is.
Die doel van dié inkubasieprojek is om plaaslike kleinboere met kennis en vaardighede toe te rus om bestaans- en kleinskaalse boerderye te ontwikkel tot winsgewende ondernemings en ook om ’n bokkudde daar te stel wat mettertyd tot ’n volhoubare bokboerdery sal ontwikkel en bokke sal lewer om verdere ontwikkelingsprojekte op voetsoolvlak te loods.
“Dié inkubasieprojek is een van verskeie landbouprojekte wat alles deel vorm van ons plan om ’n selfstandige, vreedsame, stabiele, veilige en selfonderhoudende volk te bou. Voedselsekerheid speel ’n sleutelrol om hierdie doelwitte te bereik en daarom is dit noodsaaklik om landbou te bevorder deur ’n benadering te volg wat die totale landbouwaardeketting in ag neem. Dit is vir my as leier belangrik om te verseker dat die Barolong Boo Seleka die vermoë het om hulself te versorg en hierdie benadering van selfversorgendheid behoort oral bevorder te word. Die meerderheid van die uitdagings wat ons in die gesig staar, soos hoë vlakke van misdaad, armoede, voedselgebrek, wanvoeding en werkloosheid kan deur hierdie benadering aangespreek word. Ons moet die regering ondersteun met die daarstelling van oplossings – ons erken dat dit tyd sal neem, wat egter belangrik is, is om inisiatief te neem en in werking te stel. Ons moet veral die jeug aanmoedig en daarom is ek bly dat ons reeds volgende jaar gaan begin met nedersetting tot nedersetting vermoëskepping wat genetiese verbetering van plaaslike bokke sal insluit. Die plan is om dié program oor drie jaar uit te rol en sodoende al die landelike nedersettings van Thaba’Nchu te bereik. Ons bedank al die vennote op hierdie reis, ons waardeer hulle ondersteuning opreg. Mag ons getroue God aanhou om hierdie reis te seën,” sê Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosi van die Barolong Boo Seleka.
“Die sukses van hierdie projek maak ons opgewonde. Daar is natuurlik verskeie faktore wat maak dat die projek groei – die grootste bydraende faktor is die manier waarop daar eienaarskap geneem word van die projek en die gedrewenheid om dit volhoubaar en winsgewend te maak. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om vir Kgosi Moroka en haar gemeenskap te ondersteun om hul visie van selfversorgendheid te verwesenlik en daardeur deel van hierdie suksesverhaal te wees,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
“Saai is dankbaar vir die geleentheid om ’n bydrae te lewer om kleinskaalse boere te ondersteun in hul poging om hul veeboerderybedrywighede te verbeter en te kommersialiseer,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, een van die projekrolspelers.
“Gesamentlike gemeenskapsprojekte soos hierdie, wat tot tasbare voordeel van die betrokke gemeenskappe uitgevoer word, is die uitkomste van AfriForum, en Afrikaners oor die algemeen, se keuse en strewe om in geregtigheid en in vreedsame naasbestaan met ander kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika voort te bestaan. ’n Nuwe samelewingsorde, gebaseer op gemeenskapsfederalisme, is besig om vorm aan te neem soos wat ons daarin slaag om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe op voetsoolvlak te bou. In hierdie netwerk ondersteun ons mekaar om ’n toekoms vir die kinders van al die gemeenskappe in die land te verseker,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum
Die gesamentlike inkubasieprojek is een van verskeie landbou- en erfenisprojekte wat voortvloei uit die wedersydse erkennings-en-samewerkingsverdrag wat in 2022 tussen AfriForum en die Barolong Boo Seleka gesluit is.