George-man uiteindelik in hof ná dodelike ongeluk – NVG faal egter steeds slagoffer se familie
Gareth Webster, wat daarvan beskuldig word dat hy meer as drie jaar terug ’n ongeluk veroorsaak het wat Danielle van Jaarsveld se lewe geëis het, het uiteindelik sy dag in die hof gekry. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter nagelaat om Van Jaarsveld se familie daarvan in kennis te stel. Van Jaarsveld se familie soek lank reeds geregtigheid en het juis daarom in 2024 AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader om te verseker dat geregtigheid geskied. Die privaatvervolgingseenheid het toegesien dat die saak volledig ondersoek en ter rolle geplaas word, maar die NVG het die familie ontneem van die geleentheid om te sien wat die uiteinde van jarelange se baklei vir geregtigheid is.
Webster het op 14 Januarie in die George-distrikshof verskyn op ’n aanklag van strafbare manslag vir die ongeluk wat op 6 November 2022 Van Jaarsveld se lewe geëis het. Webster het ’n Audi SQ5-sportsnutsvoertuig gery wat teen Van Jaarsveld se Kia-sedan gebots het.

Die ongeluk het op Swartvleistrandweg plaasgevind, ’n paar honderd meter van die Sedge Links-gholfbaan in Sedgefield, waar Webster ’n gholfdag bygewoon het. Beeldmateriaal van die voorval wys hoe die impak op die Kia dit agteruit in die rigting waar dit vandaan gekom het, geslinger het voordat dit verskeie kere gerol en aan die kant van die pad gaan staan het. Die SQ5 het aan Webster se werkgewer, Audi Centre George, behoort. Webster en sy passasier, wat ook die gholfdag bygewoon het, het sonder ernstige beserings daarvan afgekom. Van Jaarsveld is onderweg na die hospitaal oorlede, terwyl haar passasier Monique van Zyl, haar skoonsuster, ernstige beserings opgedoen het. Die twee was op pad strand toe.


Die privaatvervolgingseenheid het op 14 November 2025 ’n skrywe aan die NVG gerig waarin die vervolgingsgesag versoek is om ’n aanduiding te gee oor wanneer Webster in die hof sou verskyn. Die privaatvervolgingseenheid het voorts sy toewyding aan Van Jaarsveld se familie beklemtoon, bevestig dat die eenheid beplan om die hofverrigtinge by te woon, en oorweeg om ’n aansoek in te dien om die hofverrigtinge op te neem.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die NVG ten spyte van die privaatvervolgingseenheid se versoek, nie Van Jaarsveld se familie of die privaatvervolgingseenheid in kennis gestel van Webster se verskyning nie. “Eers ná die privaatvervolgingseenheid op 20 Januarie 2026 navraag gedoen het, het die NVG se kantoor in George bevestig dat die beskuldigde reeds ’n week vantevore in die hof verskyn het. Die NVG beskryf homself as die prokureur van die mense, maar sy aanklaers versaak gereeld hul plig om slagoffer gefokus te wees. Danielle se familie het die NVG gesmeek om die saak te vervolg. Dit het die NVG meer as ’n jaar geneem om eens te besluit in watter hof die saak aangehoor moet word. Toe die beskuldigde uiteindelik gedagvaar word, toe word die familie heeltemal uitgelaat. Dit is moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat hierdie meer as net ’n eenvoudige glips was nie. Nietemin, Danielle se familie sal by die volgende verskyning wees en AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die familie te ondersteun,” sê Bateman.
Die saak is tot 10 Februarie 2026 uitgestel.



