|

EAPASA faal as reguleerder: Voortsetting van mandaat gaan nie gemeenskappe beskerm

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)

Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se voorneme om die Vereniging van Omgewingsevalueringspraktisyns van Suid-Afrika (EAPASA) se mandaat as die enigste regulerende owerheid vir omgewingspraktisyns voort te sit – selfs ná 2026 – wek om goeie rede, wesenlike kommer. AfriForum voer aan dat hierdie voortsetting opnuut bewys dat daar steeds geen gevolge sal wees vir praktisyns wat nie aan omgewingstandaarde gehoor gee nie.

EAPASA tree reeds sedert 2018 as sogenaamde reguleerder op, maar tot op hede is daar geen bewyse dat hierdie owerheid sy mandaat effektief uitvoer nie. Ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) en die omgewingsimpakstudie-regulasies is dit die verantwoordelikheid van ’n reguleerder om toe te sien dat omgewingspraktisyns aan streng professionele standaarde voldoen en dat dissiplinêre optrede teen onbevoegde of oneerlike praktisyns geneem word. Die realiteit wys egter die teenoorgestelde.

In die omstrede mynbouprojek suid van die Kruger Nasionale Park het AfriForum, sowel as talle ander rolspelers, herhaaldelik gewys op ernstige prosedurele foute met betrekking tot die omgewingsimpakstudie wat onderneem was, studies wat ontbreek het en ’n duidelike gebrek aan openbare deelname. Tog het EAPASA geen stappe teen die betrokke omgewingspraktisyn, Kimopax, wat die proses bestuur, gedoen nie. Hierdie voorbeeld is slegs een van vele waar gemeenskappe aan die genade van oneerlike of onbekwame omgewingspraktisyns oorgelaat word.

“Wanneer ’n reguleerder soos EAPASA nie die publiek teen wanpraktyke beskerm nie, word die hele stelsel van omgewingsbestuur ondermyn. Die voortsetting van EAPASA se mandaat beteken bloot nóg jare waarin omgewingspraktisyns gemeenskappe kan mislei en die omgewing sonder enige aanspreeklikheid kan uitverkoop,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

AfriForum sal formele kommentaar op hierdie besluit indien en moedig gemeenskappe aan om dieselfde te doen. “AfriForum sal daarop aandring dat enige verlenging aan EAPASA streng gekoppel word aan meetbare hervormings en ’n onafhanklike dissiplinêre stelsel. Anders is dit net nog ’n verlenging van onbevoegdheid,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf