Droë krane óf vuil water bly inwoners van Mpumalanga se lot
AfriForum se noodwaterpunte in Bethal het weereens tot die redding gekom toe dié dorpie se inwoners Paasfees sonder ’n druppel water in hul krane moes deurbring. Bethal-inwoners het van Sondag, 13 April, af weereens nie water gehad nie.
Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het op Saterdag, 12 April, in boodskappe aan inwoners laat hoor dat Rand Water ’n kragonderbreking by die Bloemendal-pompstasie ervaar het. Teen 18:00 daardie aand was die reservoir se vlakke vir uitbreiding 5 in Bethal al op 10% gewees. Inwoners van hoogliggende dele was toe reeds sonder water gelaat. Teen Woensdag 16 April was inwoners se krane steeds droog, ondanks die feit dat Rand Water se kragprobleme al 13 April uitgesorteer was.
Teen Woensdagmiddag, 16 April om 16:00 was die reservoir se vlakke op slegs 25%. Rand Water se voorsiening is egter steeds nie voldoende nie en water was slegs sekere tye van die dag na Bethal gepomp. Die reservoirvlakke was niks hoër as 45% nie toe daar Donderdag 17 April – ’n dag voor Paasnaweek – nog ’n boodskap van die Govan Mbeki-munisipaliteit deurkom dat Rand Water ’n lekkasie op die Bloemendal-waterpypleiding moet herstel en weereens die watervoorsiening na Bethal gaan afsit. Inwoners moes ongelukkig maar vasbyt en Paasfees sonder lopende water deurgaan. Indien hierdie krisis nie gou genoeg opgeklaar word nie, sal Secunda se inwoners ook geraak word.
AfriForum se noodwaterpunte in Bethal is steeds besig om inwoners deur hierdie krisis te dra. AfriForum en die AC Kerk het al in 2019 hande gevat en die dorp met die noodwaterpunt gehelp. Duisende liters water is met vragmotors en trekkers van boere se plase aangery om die noodwaterpunt te voed sodat mense gratis water kan kry. Die noodwaterpunt by die AC Kerk is ook nou toegerus met sy eie boorgat. Die kerkbestuur het dit goedgedink om hul eie boorgat te sink en hierdeur die kerk en die noodwaterpunt in tye van nood te voed. AfriForum het ook ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Rand Water gerig om duidelikheid te kry oor die hoeveelheid water wat gepomp word en spesifieke inligting rakende herstelwerk wat die organisasie kan help om die waterkrisis beter te bestuur.
“Daar is geen ekstra kapasiteit vir water op die netwerk beskikbaar nie. Die oomblik wat ’n probleem die netwerk raak, word inwoners onmiddellik negatief geraak. Rand Water en die Govan Mbeki-munisipaliteit sal die waarheid met mekaar moet praat, want dit is duidelik dat Rand Water nie meer die kapasiteit het om almal te help nie,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.
Terselfdertyd is inwoners van Morgenzon se drinkwater vuil en ondrinkbaar. Op 16 April het AfriForum boodskappe ontvang van inwoners wat bruin en ondrinkbare water uit hul krane ontvang. Dit is ook nie die eerste keer nie met dieselfde situasie wat in Januarie vanjaar ook plaasgevind het. In Ermelo was inwoners se kraanwater op 15 April ook vuil en het ’n geel skynsel gehad. AfriForum rig nou dringende skrywes aan die munisipaliteite om dringende ingryping te versoek om die situasie reg te stel en in die toekoms te voorkom.
“AfriForum is bekommerd dat, ongeag hoe ’n munisipaliteit verkies om water aan inwoners te verskaf – deur sy eie bronne en aanlegte of deur gebruik te maak van ’n bulk water verskaffer soos Rand Water – bly inwoners se watervoorsiening bitter onbetroubaar. As inwoners water het, is die kwaliteit swak of mense het doodeenvoudig vir dae of weke lank geen lopende water nie. In ieder geval word inwoners aan hul eie genade en die barmhartigheid van ander oorgelaat,” sluit Bekker af.
Sluit aan by AfriForum: Besoek www.wordlid.co.za.