|

Dringende optrede in Ekurhuleni nodig om omgewingskrisis te verhoed, sê AfriForum

Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit staar ’n reusagtige omgewingskrisis in die gesig as hy nie spoedig optree om water- en rioollekkasies in die Oos-Rand op te los nie. AfriForum meen dringende, ingrypende optrede is nou nodig aangesien die toenemende water- en rioollekkasies dienslewering ontwrig en ’n ernstige bedreiging vir die omgewing en mense se gesondheid inhou.

Die organisasie het in ’n skrywe aan dr Imogen Mashazi, die munisipale bestuurder van die Ekurhuleni-metro, verskeie voorvalle genoem wat veral dui op ’n gebrek aan voldoende infrastruktuur. In November 2024 het lae watervlakke by die Russelweg reservoir wateronderbrekings in Albemarle, Dinwiddie en Castleview veroorsaak. ’n Gebarste pyp in Germiston het ook in Januarie 2024 gelei tot wateronderbrekings in Benoni, Boksburg en Elsberg.

Verder sê die organisasie ook dat die rioollekkasies die onbeheerde groei van hiasinte in die Brakpan- en Kleinfonteindam. Volgens AfriForum stel die onbehandelde riool voedingstowwe soos fosfate en nitrate in die plaaslike waterbronne vry wat die ideale toestande en voeding bied vir indringer-hiasinte om te groei. Die Brakpandam is byna heeltemal bedek met hiasinte, met onsuksesvolle pogings om dit meganies te verwyder. Ondanks vorige opruimingsaksies, is verskeie damme in Benoni ook oortrek met hiasinte.

Die organisasie is ook besorg dat die gemeenskap onnodig aan gesondheidsrisiko’s blootgestel word weens rioollekkasies en wateronderbrekings.

AfriForum doen ’n beroep op die Ekurhuleni-metro om verouderde infrastruktuur op te gradeer en op te tree deur personeel aan te stel wat oor die regte vaardighede beskik om hierdie werk te doen.

Voorts moet die munisipaliteit ook optree teenoor amptenare wat nie hulle verpligtinge nakom nie.

“Hierdie krisis kan nie langer geïgnoreer word nie. Dit is lankal tyd dat die metro moet optree, maar jare se versuim het ons nou op ’n kantelpunt te staan gebring en die gemeenskap ly net verder onder die metro se gebrekkige bestuur,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak vandag nog betrokke by jou naaste tak om saam ’n verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings