|

Dringende herstel- en opknappingswerk nodig om veiligheid in Bloemfontein te verbeter

AfriForum het ’n dringende versoek aan die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit en Centlec gerig om onmiddellik te begin met instandhoudings- en herstelwerk in Bloemfontein. Dit volg ná verskeie kwessies tydens ’n veiligheidsvergadering by die Bayswater Suid-Afrikaanse Polisiediens geopper is.

Een van die grootste kwessies is bome wat nie gesnoei word nie en oor die pad hang en straatligte wat nie behoorlik onderhou word nie. Dit stel die gemeenskap se veiligheid in gevaar en dra by tot die onnet voorkoms van die buurt. Instandhouding van bome en straatligte sal die gemeenskap se veiligheid bevorder deur te verhoed dat misdadigers donker hoekies het om weg te kruip en sal ook help om motoriste veilig te hou op die pad.

Die bome wat nie gesnoei word nie hou ook ’n risiko vir die elektriese infrastruktuur in aangesien dit aan kragdrade vasklou en kortsluitings veroorsaak wat die hele buurt in donkerte kan dompel.

“Ons wil die gemeenskap se veiligheid bevorder en ook help om die buurte netjies te hou. Weens die reënval wat Bloemfontein die laaste paar weke beleef het, het bome omgeval wat kan lei tot die beskadiging van elektriese infrastruktuur. Ons wil ook die veiligheid van ons polisie, sekuriteitsrolspelers en buurtwagte bevorder. Donker kolle waar ligte nie werk nie hou groter risiko’s vir hulle en die gemeenskap in,” sê Christo Groenewald, AfriForum distrikskoördineerder van Bloemfontein.

Die AfriForum911 reaksie-eenhede werk nou saam met verskeie veiligheidsafdelings om die gemeenskap se veiligheid te bevorder. “AfriForum moedig sy lede aan om aan te sluit by die plaaslike AfriForum-buurtwagte en betrokke te raak by patrollies, sodat ons saam ’n veilige en voorspoedige toekoms vir ons gemeenskappe kan verseker,” sluit Groenewald af.

AfriForum dring daarop aan dat die Mangaung-metro en Centlec ’n aksieplan bekendmaak om die bogenoemde kwessies die hoof te bied ten einde die gemeenskap se veiligheid te verseker.

Soortgelyke plasings