Dierbaar is hier – ’n program oor diere vir diereliefhebbers

AfriForumTV spog met ’n splinternuwe joernaalprogram vir diereliefhebbers: Dierbaar.

As jy ’n dieremens is wat belangstel om meer te leer oor jou hondefamilielid – selfs oor wildediere in die algemeen – het AfriForumTV hierdie program spesiaal vir jóú geskep.

In elke episode besoek Dierbaar onder meer telers van minder bekende honderasse, soos die Samojeed, die baardkollie en die Newfoundland. Die span gaan kyk ook hoe renosters onthoring word, gee besonderhede oor prosteses vir diere en gaan vind meer uit oor die dierebloedbank by die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal in Pretoria.

Dierbaar bestaan uit agt episodes en 32 insetsels propvol leersame inhoud waaruit enige diere-eienaar sal voordeel trek.

Esmarie Yssel, ’n radioaanbieder by Pretoria FM, het met die konsep vorendag gekom en dit saam met haar man, Elrich Yssel, ’n filmmaker en regisseur, ontwikkel en tot uitvoer gebring. Dis Yssel (Esmarie) se eerste televisieprogram as aanbieder en inhoudsvervaardiger.

“Dit was nog altyd ’n groot droom van my om programme vir televisie te kan vervaardig en dit was ’n uitgemaakte saak dat ek diereinhoud sou kies as die geleentheid hom sou voordoen. Ek wil nie noodwendig voor die skerms wees nie, maar omdat ek die inhoud vervaardig en geskryf het, het dit vir AfriForumTV sin gemaak om my sommer ook voor die kameras in te span,” sê Yssel.

Die span het Dierbaar oor ’n bestek van twee jaar verfilm. Daar is byvoorbeeld gewag vir telers om babahondjies te hê alvorens daar verfilm is, omdat dit vir hulle belangrik was om die kyker te wys hoe die ras as babahondjies én volwasse honde lyk en is.

Die inhoud is noukeurig volgens nuuswaarde, interessantheid en leersaamheid gekies.

Dierbaar gaan oor alles wat met honde te doen het en nog baie meer. Ons het ’n voorliefde vir die natuur en ons respekteer dit, daarom het ons in Dierbaar probeer om stories te vertel wat die unieke verbintenis tussen mens en dier vasvang en wat die spesiale band tussen hulle vier,” sê Elrich.

Dierbaar is nou op AfriForumTV beskikbaar en sal vir agt weke elke Woensdag ’n draai op Pretoria FM in Soggens met Sarina maak.

Klik hier vir ’n voorsmakie van Dierbaar.

Besoek www.afriforumtv.co.za of laai die AfriForumTV-toep af. AfriForumTV is op alle Google Play-gesertifiseerde slim-televisies en Android TV beskikbaar.

Soortgelyke plasings