DBO se onvermoë om gehalte moedertaalonderrig te bied wek kommer – AfriForum
AfriForum spreek jaarliks met die bekendmaking van matriekuitslae twyfel uit oor die betroubare beeld wat met die immer verbeterende slaagsyfer geskep word. Hierdie twyfel is pas weer geregverdig deur die aankondiging dat die uitrol van kodering en robotika as verpligte vakke voorlopig op ys geplaas word.
Volgens die Departement van Basiese Onderwys word die proses gestaak sodat daar eers op die lees- en begripsvermoë van leerders gefokus kan word. Plaaslike en internasionale navorsing dui inderdaad aan dat die meerderheid leerders se vermoë om met begrip te lees, só swak is, dat insigvakke soos kodering en robotika by die meeste skole nie sinvol aangebied sal kan word nie.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat daar voorheen aangekondig is dat ’n amptelike kodering- en robotika-kurrikulum vir graad R tot graad 9 in 2025 geïmplementeer sou word ten einde leerders beter voor te berei vir die toekomstige arbeidsmark. Dit was in reaksie op die toenemende vereiste dat werkers in die meeste sektore oor digitale vaardighede moet beskik. “Met die aankondiging dat die implementering gestaak word, erken die departement dat dit nie in staat is om toe te sien dat die meeste skole gehalte onderrig kan aanbied nie. Nog meer teleurstellend is dat dit beteken dat die meerderheid leerders nog verder agter in die arbeidsmag gaan raak,” sê sy.
Volgens die 2022-Suid-Afrikaanse Sistemiese Evaluasieverslag (SASE) is Afrikaanse en Engelse moedertaalsprekers die leerders wat die beste kan lees met begrip. Bailey skryf dit toe aan ontoereikende moedertaalonderrig. “Hoewel kinders van graad R tot graad 3 sogenaamd moedertaalonderrig ontvang, is leermateriaal dikwels nie in hulle eie taal beskikbaar nie. Daar is ook nie voldoende moedertaalsprekende onderwysers beskikbaar om die onderrig aan te bied nie. Voeg ander uitdagings by, soos die gebrek aan voldoende skole wat oorvol klaskamers tot gevolg het, begrotingsuitdagings en politieke inmenging in skole, en die gevolg is die swak lees- en begripvermoë wat die lot van té veel kinders in die land is,” voeg sy by.
“Met die ondertekening van die sogenaamde Bela-wet is die illusie geskep dat oplossings nou vir hierdie uitdagings gevind gaan word, maar deur onder meer graad R verpligtend te maak, is die bogenoemde uitdagings net vererger. Waar die ANC-geleide regering in gebreke bly om die jeug na behore vir die toekoms voor te berei, is die hulpmiddels van privaat inisiatiewe die beste hoop vir ondernemende skole om die gehalte van hulle onderrig te verhoog. Ongelukkig is dit opsies wat selde sonder koste geïmplementeer kan word, en bly leerders uit die armste gemeenskappe dikwels uitgelewer aan wat die provinsiale departemente opdis. Terwyl hierdie departemente se fokus so dikwels veral op verengelsing berus, sal AfriForum voortgaan om die lewering van moedertaalonderrig as vernaamste basis vir gehalte onderrig te beskerm.