|

Brandgevaar! Tshwane-metro oortree eie verordening, maan AfriForum

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels)

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oortree volgens die burgerregteorganisasie AfriForum sy eie brandweerverordening en plaas daarmee die metro se inwoners én infrastruktuur in ernstige gevaar. AfriForum voer aan dat die metro homself voorts skuldig maak aan die toepassing van dubbele veiligheidstandaarde en plaas druk op privaat grondeienaars en brandbeskermingsverenigings (BBV’s) om veral nou, terwyl die risiko vir veldbrande uitsonderlik hoog is, aan die betrokke wetgewing en verordeninge te voldoen, maar dit self oortree.

In ’n mediaverklaring wat gister uitgereik is, het die Tshwane-metro privaat grondeienaars en BBV’s weer gemaan om te voldoen aan die bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande 101 van 1998 en die metro se brandweerdiensverordening.

Volgens Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis, ondersteun die burgerregteorganisasie dié aanmoediging ten volle en dring ook by privaat eienaars daarop aan om in ooreenstemming met die betrokke wetgewing en verordeninge op te tree.

AfriForum dring egter by die metro daarop aan om self ook dié wetlike vereistes na te kom om te verseker dat die veiligheid van mens, dier en infrastruktuur in terme van brandgevaar verseker kan word.

Kragtens artikel 10(1) van die metro se brandweerdiensverordening het die eienaar of bewoner van ’n eiendom die verantwoordelikheid om toe te sien dat ’n perseel nie sodanig met gras, onkruid, riete, struike of bome oorgroei dat dit ’n brandgevaar vir enige aangrensende perseel of enige ander persele of eiendom inhou nie. Artikel 10(2) van dié verordening bepaal voorts dat die brandgevaar op landbougrond ook beperk moet word deur middel van minstens 5 m wye brandbane. Die verordening bepaal dat die eienaar of bewoner van die eiendom moet toesien dat dié brandbane, wat aan die grense van die eiendom aangebring moet word, in stand gehou moet word.  

Hoewel die verordening ook van toepassing is op die metro, kom die metro telkens nie die voorskrifte na nie. Verskeie begraafplase en ander munisipale terreine soos oop velde en veldstroke aangrensend tot paaie in die Tshwane-metro hou volgens AfriForum ernstige brandgevaar in omdat dit nie na behore in stand gehou word nie.

Cooks hou vol dat die metro in baie gevalle oor die hele munisipale gebied heen sy eie verordeninge oortree. “Oorgroeide sypaadjies en ander oop munisipale terreine is sigbaar oor die hele metro heen. Dié stroke en terreine hou ’n ernstige brandgevaar in, maar tog kom die metro nie hierdie kritieke verantwoordelikheid na nie. Dit is nou, in die droë maande en gedurende die komende winderige Augustus- en September-tyd, veral noodsaaklik om dié terreine volgens die voorgeskrewe vereistes in stand te hou. Die metro het ’n verantwoordelikheid om óók voor sy eie deur te vee en nie privaat grondeienaars alleenlik voor stok te kry vir die nakoming van die betrokke wetgewing en verordeninge nie,” benadruk Cooks.

Soortgelyke plasings