Boekresensie: “Ons grootste Springbokhelde” deur DON Nelson
Ek het die reeks, Ons grootste Springbokhelde deur Don Nelson, gelees. My gunsteling was die een van Cheslin Kolbe, want hy is my rugbyheld. Ek het baie van die reeks gehou want dit vertel hoe die spelers grootgeword het en van hulle rugby-loopbaan. Ek dink kinders wat van rugby hou, sal graag hierdie reeks lees, dit is baie interessante boeke en mens leer baie van jou gunsteling spelers. Van my spanmaats wat saam met my rugby speel, het ook lekker gelees aan die boeke. – Liam (11)
Hierdie boekresensie is deur ’n 11-jarige seun geskryf. Hy verkies om homself ’n sportman te noem maar as hy móét lees, sal hy ’n nie-fiksieboek aanpak. Ons grootste Springbokhelde het egter sy belangstelling geprikkel en hy het al ses boeke in die reeks die een ná die ander verslind.
Meer oor hierdie reeks:
- Dit is geskryf deur Don Nelson.
- Die reeks bestaan uit ses boeke en is in Afrikaans en Engels beskikbaar.
- Dit kan aangekoop word by Crazy Store-winkels, Bargain Books, Reader’s Warehouse en Graffiti Books.
Ons grootste Springbokhelde: Etzebeth

“Ek is so dankbaar om jou vriend te wees en ek kan nie wag om my kleinkinders te vertel ek het saam met Eben Etzebeth gespeel nie” – Siya Kolisi. Sedert hy vleuel was vir Hoërskool Tygerberg se o. 16B-rugbyspan, het Eben Etzebeth uitgestyg en op die ouderdom van 20 ’n Springbok en ’n legende in Suid-Afrikaanse rugby geword.
Ons grootste Springbokhelde: Pollard

“Ek het geweet ek het werk gehad om te doen. As ’n rugbyspeler leef jy hiervoor. Gelukkig het dit uitgewerk” – Pollard oor daardie skop wat die Springbokke na die 2023 Rugbywêreldbeker-finaal geneem het. Handré was van jongs af bestem vir uitmuntendheid, en die Bulle het hom ’n kontrak aangebied toe hy nog op skool was.
Ons grootste Springbokhelde: Du Toit

“Ek maak altyd die grappie dat as daar ’n wit plastieksak oor die veld waai, Pieter-Steph dit ook sal agternasit. Hy is soos’n masjien.” – Jacques Nienaber
Pieter-Steph du Toit het grootgeword met ’n sterk gevoel dat hy vir iets groot bestem is. Die familienalatenskap was altyd vir hom belangrik, en hy was bewus van ’n gevoel van verantwoordelikheid omdat hy die Du Toit-naam dra.
Ons grootste Springbokhelde: De Klerk

“Jy het amper nie ’n losskakel nodig wanneer Faf speel nie. Hy hardloop, hy gee die bal aan en hy skop. Ek beskou hom as die heel beste skrumskakel in die wêreld” – Chris Ashton, vleuel, Engeland
Hy is nooit vir ’n Cravenweekspan gekies nie, maar Faf de Klerk het nie moed opgegee nie. Met ongeëwenaarde wilskrag en deursettingsvermoë het hy ’n Springbok geword. Faf was ’n deurslaggewende deel van die span wat die Rugbywêreldbeker in 2019 en 2023 gewen het.
Ons grootste Springbokhelde: Kolbe

Met sy beroemde systappie is hy by Owen Farrell verby, en die doellyn was oop voor hom. Cheslin Kolbe het sy vuis triomfantelik gelig en sy hande in ’n dankiesêgebaar byeengebring. Dit was ’n droom van ’n drie wat die skare lank sal onthou – almal wat daar was én die miljoene TV-ondersteuners.
Ons grootste Springbokhelde: Kolisi

Op Saterdag 15 Junie 2013 het Siya wakker geword met vlinders in sy maag, want hy sou sy eerste toetswedstryd vir die Springbokke speel. Siyamthanda Kolisi is die kaptein wat die Springbokke na die meeste oorwinnings in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby gelei het. Hierdie is die verhaal van sy ikoniese pad na glorie.



