Bethlehem-tak maak watervoor skoon as deel van groter skoonmaakaksie
Die watervoor in Golfstraat, wat vir maande lank verstop was, is uiteindelik weer netjies en skoon danksy AfriForum se Bethlehem-tak. Dié watervoor is oor die laaste paar maande selfs as ’n vullishoop gebruik en die onkruid het hoog gestaan.
Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het dié verstopte watervoor wesenlike gesondheidsrisiko’s vir die publiek ingehou en was oor die algemeen onooglik. Aangesien reënwater nie in die watervoor kon afloop nie het dit in die straat ingeloop en slaggate gevorm.
“Ons weet dat die munisipaliteit kies om probleme soos hierdie te ignoreer en daarom het ons ingespring om toe te sien dat die skade nie vererger nie. Dit is egter ’n hartseer feit dat as die munisipaliteit hulle kant gebring het om infrastruktuur in stand te hou dan sou ons dorp nie op sy eie gemeenskapslede moes staatmaak om te sorg dat algehele verval voorkom word nie,” sluit Ikking af.
Volgens Jeandré Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, is hierdie net die begin van vele aksies wat dié tak hierdie jaar gaan aanpak. “Ons nooi die gemeenskap uit om ons te kom help, betrokke te raak en sodoende saam met ons ’n verskil te maak. Hulle kan direk met die tak skakel of aansluit by www.wordlid.co.za.”