|

Atlete en toeskouers veilig danksy Groot-Oog-buurtwag se wakende oog

AfriForum se Groot-Oog-buurtwag in Keimoes het op 21 en 24 Februarie by die Keimoes Gekombineerde Skool se atletiekbyeenkomste diens gedoen om toeskouers en atlete se veiligheid tydens die byeenkoms te verseker. AfriForum-buurtwaglede is op strategiese plekke geplaas om patrollie te doen.

Die dorpie is ’n maklike teiken vir misdadigers en kwaaddoeners tydens sportbyeenkomste, waar onder meer dwelms en gevaarlike wapens ingesmokkel word.

Die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het leerders deursoek wat in besit was van gevaarlike wapens, soos messe en skêre. Die SAPD het ook dwelms en okkapype in leerders se besit gekonfiskeer en dié leerders na die polisiekantoor geneem.

Hierdie aksie is deel van AfriForum se langtermynplan om veiligheid in gemeenskappe te bevorder. Samewerking met die SAPD is veral van kardinale belang om hierdie doelwit te bereik.

“AfriForum is trots op ons lede wat so ’n groot verskil maak om misdaad hok te slaan. Met vorige sportbyeenkomste het daar baie ongeruimdhede plaasgevind, maar hierdie keer was dit ordelik rustig en geen kriminele aktiwiteite is gerapporteer nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Soortgelyke plasings