ANC-geleide regering behoort op Mensregtedag hul kop in skaamte te sak – AfriForum
Die burgerregteorganisasie AfriForum voer aan dat die ANC-geleide regering vandag hul kop in skaamte moet sak oor die omvang van menseregteskendings wat tans in die land plaasvind.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die feit dat gemiddeld sowat 70 mense per dag in Suid-Afrika vermoor word ’n ernstige aanklag op die regering se onvermoë om landsburgers se reg op lewe te beskerm. “Om alles te vererger, dra die regering by tot die normalisering van geweld deur nie oproepe tot geweld soos ‘kill the Boer’ te veroordeel nie,” voeg Kriel by.
Die hoë vlakke van armoede en ’n werkloosheidskoers van meer as 40% is volgens Kriel ook aanduidend van die regering se onvermoë om gunstige omstandighede te skep waarbinne die privaatsektor werk kan skep en die ekonomie kan laat groei. “Die regering skep juis ’n ongunstige klimaat vir beleggers deur eiendomsreg te misken, welwetend dat ’n disrespek vir eiendomsreg tot verhoogde werkloosheid en armoede sal lei,” sê Kriel.
Kriel wys ook daarop dat 80% van Suid-Afrikaanse skole disfunksioneel is – iets wat een van die ernstigste menseregvergype is wat teen kinders in die land gepleeg word. “Kinders word weerhou van kwaliteit onderrig onder meer deur die gebrek aan moedertaalonderrig vir die meerderheid skoliere. Instede van om moedertaalonderrig aan alle skoliere beskikbaar te stel, het die regering verkies om eerder deur die Bela-wet Afrikaanse kinders se reg op moedertaalonderrig te skend en Afrikaanse kultuurgemeenskappe se voortbestaan daardeur te bedreig,” sluit Kriel af.