Amerikaanse wetsontwerp wat sanksies vir korrupte ANC-politici kan inhou, nóg ’n tree nader aan implementering – AfriForum verwelkom goedkeuring
AfriForum beskryf ’n Amerikaanse kongreskomitee se goedkeuring van ’n wetsontwerp – wat die implementering van geteikende sanksies teen korrupte en ekstremistiese Suid-Afrikaanse politici sal moontlik maak – as ’n positiewe ontwikkeling in die belang van die mense van Suid-Afrika. Ronny Jackson, ’n kongreslid van Texas, het die wetsontwerp, amptelik getiteld die U.S.-South African Bilateral Relations Review Act of 2025, in April vanjaar ter tafel gelê.
Die wetsontwerp sal nou in die Huis van Verteenwoordigers gedebatteer en gewysig word voordat ’n stemming daaroor gehou sal word. Indien die wetsontwerp hier goedgekeur word, sal dit aan die Senaat voorgelê word vir finale oorweging.
Hierdie ontwikkeling kom te midde van die toenemende diplomatieke krisis tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings. Daar is verlede week berig dat die Amerikaanse regering Mcebisi Jonas, Suid-Afrika se spesiale gesant in die VSA, ’n diplomatieke visum geweier het en sy geloofsbriewe verwerp het. Dié onthulling het bevestig dat Suid-Afrika, tydens een van die land se ernstigste diplomatieke krisisse sedert 1994, effektief reeds meer as drie maande lank sonder diplomatieke verteenwoordiging in Washington is.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, werp die ANC se jare lange roekelose en ekstremistiese diplomatieke optrede en retoriek nou wrange vrugte af.
“AfriForum hou vol dat gewone burgers van die land nie gestraf moet word vir die ekstremisme en korrupsie van politici nie. AfriForum het nog nooit gepleit vir die implementering van sanksies wat Suid-Afrika as geheel teiken nie. Daarom sal die instelling van geteikende sanksies teen dié politici ’n welkome ontwikkeling wees,” sluit Van Zyl af.