| |

AfriForum vra internasionale gemeenskap om sanksies teen Julius Malema in te stel

Video: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan, as deel van sy internasionale veldtog teen die “Kill the Boer”-dreunsang, regerings versoek om persoonlike sanksies teen Julius Malema en ander in te stel wat hulle skuldig maak aan growwe menseregteskendings deur hul openlike oproepe tot geweld teen Afrikaners en boere. AfriForum gaan ook versoek dat regerings deur diplomatieke kanale hul kommer uitspreek oor die Suid-Afrikaanse regering en president Cyril Ramaphosa se versuim om die oproepe tot geweld teen Afrikaners en boere onvoorwaardelik te veroordeel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die beroep op internasionale strafmaatreëls teen Malema nodig omdat die Konstitusionele Hof se wettiging van die “Kill the Boer”-dreunsang beteken dat Malema nie in Suid-Afrika tot verantwoording geroep kan word vir sy haatspraak teen Afrikaners en boere nie.

Kriel wys daarop dat AfriForum se regspan reeds besig is om ’n dossier teen Malema en sy kollegas op te stel waarin uitgewys word hoe hulle menseregte skend en hul steun vir terreurorganisasies uitspreek. Dit sal ook wys op die ernstige aantygings van korrupsie teen hulle. “Hierdie dossier sal aan regerings wêreldwyd oorhandig word om die noodsaaklikheid vir persoonlike sanksies uit te wys,” voeg Kriel by.

“Niemand mag onaantasbaar wees as hulle menseregte skend deur, soos in Malema se geval, geweld aan te por nie. As geregtigheid nie plaaslik geskied nie, sal AfriForum aanhou om alternatiewe remedies in die buiteland te benut,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings