AfriForum vra besnoeiing van brandstofheffing te midde van wêreldwye energiekrisis
Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op Enoch Godongwana, die minister van Finansies, om verligting te bring aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en verbruikers namate die eskalerende konflik in Iran oliepryse drasties verhoog. Die onlangse uitbreking van konflik in die Midde-Ooste het ’n wêreldwye energiekrisis veroorsaak met die olieprys wat met meer as 40% gestyg het. Sommige ekonome skat dat dit binnekort tot bo $150 per vat kan styg. Hierdie kommerwekkende ontwikkeling sal die brandstofprys beslis drasties verhoog, wat ’n rimpeleffek dwarsdeur die wêreld- en plaaslike ekonomie sal veroorsaak, aangesien byna alle ander pryse styg as gevolg van die verhoogde vervoerkoste.
In ’n brief wat vandag aan die minister gestuur is, voer AfriForum aan dat die tipe aksie wat die organisasie aanbeveel nie ongekend is nie. In Maart 2022 het Godongwana, in samewerking met Gwede Mantashe, die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, gesamentlik ’n tydelike verlaging in die algemene brandstofheffing van R1,50 per liter aangekondig om aan huishoudings verligting te bring van stygende brandstofpryse na aanleiding van die konflik tussen Rusland en Oekraïne. “AfriForum en heelwat ekonome glo dat dit die gepaste benadering is om die impak van hierdie jongste krisis van ’n soortgelyke aard te versag,” skryf Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, in die brief.
“Mense onderskat dikwels die impak van ’n verhoogde brandstofprys op die prys van goedere. Grondstowwe moet vervoer word om in intermediêre goedere omskep te word. Intermediêre goedere moet vervoer word om in finale goedere omskep te word. Finale goedere moet vervoer word om aan verbruikers verkoop te word. Elke stap word duurder as die brandstofprys styg,” sluit Van Zyl af.



