AfriForum verwelkom bek-en-klouseer-skikking
AfriForum verwelkom die skikkingsooreenkoms wat tussen die departement van Landbou en landbou-organisasies aangegaan is en die weg baan vir die invoer, verkryging en verspreiding van geregistreerde bek-en-klouseer-entstowwe deur privaat entiteite.
Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, bestempel dié skikking as ’n noodsaaklike stap in die desentralisering van die staat se beheer ten opsigte van die bek-en-klouseerkrisis. Hy voer voorts aan dat Willie Aucamp, pas aangestelde minister van Landbou, se bereidwilligheid om die privatisering van entstofaankope te fasiliteer, ’n kritieke rol gespeel het in ’n besluit wat maande gelede al geneem moes gewees het.
AfriForum het uit die staanspoor van die bek-en-klouseer-pandemie daarop gewys dat die staat nie oor die vermoë beskik om die reusetaak van die verkryging en inenting van nagenoeg 28 miljoen dosisse entstof sonder die hulp van die privaat sektor te doen nie.
“Die ooreenkoms sal aan boere nou die geleentheid gee om self verantwoordelikheid te neem vir die welstand van hul kuddes. Hulle sal nie meer hoef toe te kyk hoe hul boerderye weens die onbekwaamheid van die staat ten gronde gaan nie en sal nou self die verantwoordelikheid kan opneem om die krisis die hoof te bied,” verduidelik De Klerk.



