AfriForum verwelkom aanbeveling aan Tshwane-metro dat biblioteke op Saterdae oopbly
AfriForum verwelkom ’n vertoë van Zukiswa Ntsikeni, groepshoof van die Tshwane-metro se Departement van Gemeenskaps- en Maatskaplike Ontwikkelingsdienste, aan haar kollegas en die stadsbestuurder om biblioteke in dié metro op Saterdae oop te hou. Dit sluit aan by AfriForum se soortgelyke versoek aan die Tshwane-metro wat gerig is nadat kennisgewings oor die sluiting van biblioteke op Saterdae vanaf 10 Mei 2025 bekend geraak het.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is biblioteke steeds ’n noodsaaklike bron van inligting en vermaak vir ’n groot deel van die gemeenskap wat nie geredelik toegang tot data en digitale of gedrukte boeke het nie, of om welke redes ook al verplig is of verkies om gedrukte boeke te lees. “Boeke en data is baie duur, dus kan mense wat welaf is, wel sonder biblioteekdienste klaarkom, maar vir die mees kwesbares in die gemeenskap is dit hulle enigste bron van toegang tot publikasies oor feite en fiksie, asook selfs konneksie en aanlyn bronne. Vir mense wat deur die week werk of studeer, of van werkendes afhanklik is vir vervoer, is Saterdae die enigste dag waarop hulle biblioteke kan besoek. Om dié rede is dit nodig dat biblioteke in Pretoria en Centurion op Saterdae toeganklik moet wees,” meen sy.
Ntsikeni se skrywe benadruk ook hierdie behoeftes en beklemtoon dat begrotingsmaatreëls, soos ’n skoftestelsel, nie die lewering van hierdie belangrike diens mag onderbreek nie.
AfriForum het verlede week ’n aanlyn peiling gedoen om die publiek se kommentaar oor die beplande sluiting te kry. Die meerderheid van die respondente is ten gunste van die oophou van die biblioteke en ondersteun pogings om die biblioteke op Saterdae oop te hou.
“Ntsikeni se skrywe bewys hoe belangrik openbare druk is – daar is ag geslaan op die publiek se versoeke. Hopelik sal die stadsbestuur ag slaan op haar mening, asook die insette van AfriForum en ander organisasies en sorg dat biblioteke nie hulle gebruikers in die steek hoef te laat nie,” voeg Bailey by.