AfriForum verfraai Le Roux-dorpshuis in Oudtshoorn
Die Le Roux-dorpshuis se perseel lyk nou soos ’n nuwe sikspens nadat die AfriForum-tak in Oudtshoorn verlede week vir die eerste keer daar ingevaar en opgeruim het.
AfriForum onderhou nou al ’n geruime tyd die parkies in Luscombe- en Middelstraat, maar het onlangs ook die instandhouding van die C.P. Nel-museum en die Le Roux-dorpshuis se terreine oorgeneem. Die trustees van die C.P. Nel-museum het AfriForum om hulp genader met die instandhouding en sedertdien lyk beide museums se grasperke sommer stukke beter.
Behalwe vir 2,5 sleepwa vragte vullis wat weggery is, het AfriForum ook bemesting in die tuine en op die grasperk van die Le Roux-dorpshuis ingewerk, om die geboue opgeruim en bome gesnoei. Die tak het ook bossies, onkruid en ongewenste boompies verwyder en van hope ou vullis ontslae geraak. Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, sê hulle is dankbaar om deel van die verskil te kon wees. “Ons is bly dat ons kon help en sal voortgaan om te verseker dat geskiedkundige geboue soos hierdie bewaar word. Ons nooi graag die gemeenskap uit om betrokke te raak en ons te help om meer projekte soos hierdie aan te pak,” sê Kleinhans.
Die tak het sedert die begin van Februarie meer as 18 000 m2 gras gesny tydens hul opknappings-projekte in Oudtshoorn.
Raak vandag nog betrokke en help die Oudtshoorn-tak om nóg meer vir die gemeenskap te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.





