|

AfriForum vat Msukaligwa-munisipaliteit hof toe oor swak dienslewering

AfriForum het gister (7 Oktober 2025) in ’n aansoek om ’n strukturele interdik by die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit) gebring om die munisipaliteit en die provinsie te dwing om hul statutêre pligte in die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit na te kom en dienslewering aan inwoners in die munisipaliteit te herstel. Die aansoek volg op die munisipaliteit se jare lange versuim om dienste in ooreenstemming met die voorskrifte van die Grondwet aan inwoners van Ermelo en omliggende dorpe in dié munisipaliteit te lewer.

Provinsiale ingryping ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet is reeds sedert Oktober 2018 op die munisipaliteit van toepassing. AfriForum hou vol dat dié ingryping egter nie voldoende resultate lewer om dienslewering hier te herstel nie en dat omvattende toetrede van die provinsie nou noodsaaklik geword het.   

Die aanhoor van AfriForum se aansoek is uitgestel nadat die regter weens ’n konflik van belange aan die saak moes onttrek. Die saak sal na verwagting in November aangehoor word.

Die burgerregteorganisasie voer in hofstukke vir die aansoek aan dat ernstige wanbestuur en verval die munisipaliteit kenmerk. “Kwessies soos finansiële wanbestuur en uitgebreide swak dienslewering het reeds tot ernstige verval in die munisipaliteit gelei,” beklemtoon Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld. Die gebrek aan dienslewering is volgens hom onder meer duidelik in die verval van die munisipaliteit se pad-, krag- en rioleringsnetwerke sowel as die voorkoms van omvangryke waterbesoedeling.

Ondanks AfriForum se eie ondersoek wat die verval van munisipale dienslewering in die Msukaligwa-munisipaliteit bevestig, het amptenare in skrywes aan AfriForum die bevindinge as onbeduidend afgemaak.

“Die munisipaliteit voer aan dat AfriForum se ondersoek nie ’n akkurate weerspieëling van dienslewering in die betrokke dorpe is nie en dat die organisasie se hofaansoek vir die herstel van dienslewering onnodig is. Daar word ook aangevoer dat inwoners se ontevredenheid ongegrond is aangesien dienslewering glo in die afgelope paar jaar verbeter het. Die teendeel is egter waar en duidelik sigbaar in Ermelo en die omliggende dorpe,” sluit Bekker af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik