|

AfriForum teken beswaar aan teen die verkoop van parke in Oudtshoorn

AfriForum het die afgelope week skriftelike kommentaar by die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit ingedien, waarin beswaar gemaak is teen dié munisipaliteit se voornemens om 15 erwe, wat tans as openbare ruimtes en parke dien, by wyse van openbare veiling te verkoop.

Die burgerregteorganisasie voer aan dat die voorgenome verkoop van hierdie ruimtes met die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk bots. Hierin word daar voorsiening gemaak vir meer openbare ruimtes soos wat die bevolking groei en nuwe huishoudings hulself in Oudtshoorn vestig. Die GOP het selfs voorspel dat minstens 922 nuwe huishoudings teen 2030 geskep sal word, wat die behoefte aan nuwe parke en groen ruimtes verder sal vergroot.

“Oop openbare ruimtes is noodsaaklik vir gesonde, inklusiewe en lewensvatbare gemeenskappe,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Hierdie areas bevorder en verbeter fisieke en geestesgesondheid, skep geleenthede vir sosiale integrasie en verhoog omliggende eiendomme se waarde. Die verlies van sulke ruimtes is onomkeerbaar.”

Benewens die voordele vir die gemeenskap, speel parke en bome in stedelike gebiede ’n kritieke rol in biodiversiteit, die opvang van koolstofdioksied, die versagting van hittegolwe en die bevordering van die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte. In Oudtshoorn, met sy strawwe somerhitte, is die koelte en ekologiese waarde van bestaande parke van onskatbare waarde.

AfriForum wys ook daarop dat finansiële oorwegings nie ’n geldige rede is vir die verkoop van hierdie grond nie, aangesien instandhouding deur gemeenskapsbetrokkenheid en programme soos Adopt-a-Spot kosteloos vir die munisipaliteit geskied. AfriForum onderhou en versorg sedert 2023 die Luscombe-park en sedert 2024 die Middelstraat-park. Hierdie twee parke het intussen ontwikkel tot ware lushowe wat graag en gereeld deur die gemeenskap besoek word.

“Die korttermyn-inkomste wat ’n veiling sou inbring, weeg nie op teen die langtermynverlies van gemeenskapsbates nie,” voeg Erasmus by. “Ons het meer parke en openbare ruimtes in Oudtshoorn nodig – nie minder nie.”

AfriForum doen ’n beroep op die munisipaliteit om die 15 erwe van die veilingslys te verwyder en dit vir toekomstige geslagte te bewaar.

Sluit vandag nóg by die Oudtshoorn-tak aan om ’n werklike verskil te maak. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings