|

AfriForum-tak, buurtwag woeker in Standerton

AfriForum se Standerton-tak en -buurtwag was behoorlik bedrywig gedurende April vanjaar en het verskeie projekte in die dorp aangepak.

Die tak het onder meer ’n slaggatprojek saam met die Spar-winkelsentrum aangepak om verskeie slaggate in die dorp te herstel. Die Spar-winkelsentrum het die teer vir dié projek geborg en die tak het hulle mannekrag ingespan om die werk te voltooi.

Die Standerton-skoukomitee het ook die tak genader om die skougronde voor te berei vir die jaarlikse Standerton-skou. Die tak het vinnig aan die werk gespring en die terrein se gras gesny en opgehark.

Die buurtwag het ook nie op hul louere gerus nie en het gedurende April onder meer aan die organisasie se nasionale massapatrollie deelgeneem. Voorts het die buurtwag op Vrydae-oggende deelgeneem aan Kasselman Sekuriteitsdienste se sigbaarheidsoperasies. Daar is ook in samewerking met Kasselman Sekuriteitsdienste ’n gesteelde voertuig teruggevind tydens ’n aparte operasie.

Sluit vandag nog by jou naaste tak aan om sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings