AfriForum-span maak Birchleigh-leerders touwys oor gevare van boeliegedrag
Die nagenoeg 1 300 leerders verbonde aan Laerskool Birchleigh in Kempton Park is, danksy AfriForum se teenboelieveldtogspan, nou slaggereed om boeliegedrag uit te ken én hulle teen dié gedrag te staal. Die teenboeliespan het op 27 Maart ’n inligtingsessie by dié skool aangebied as deel van ’n nasionale bewusmakingsveldtog oor afknouery in skole.
Janine Venter, interne departementshoof van die grondslagfase by Laerskool Birchleigh, meen die vestiging van ’n gemeenskap waar almal mekaar respekteer en ondersteun is noodsaaklik. “Boeliegedrag is nie net sleg vir die slagoffer nie, maar ook vir diegene wat daarby betrokke is. Dit veroorsaak emosionele skade wat ’n leeftyd lank letsels kan laat.”
Volgens Tania Scheepers, AfriForum se Noordstreek-koördineerder vir Onderwys en aanbieder van die veldtog se inligtingsessies, is daar uiteenlopende redes vir boeliegedrag onder kinders. In die akademiese artikel “Why do children bully?” wat in 2015 in die vaktydskrif School Leadership Today verskyn het, voer die Britse navorser dr. Elizabeth Nassem aan dat boelies dikwels in isolasie verkeer as gevolg van ’n gebrek aan empatie en betrokkenheid by misdaad. Haar navorsing toon onder meer dat die volgende as die belangrikste redes vir boeliegedrag onder kinders geag word:
- die behoefte daaraan om gewild te wees onder hul portuurgroep;
- die soeke na aanvaarding van kinders wat sosiale invloed het (hierdie aanvaarding vervul die behoefte om in te pas en kan selfs die idee van beskerming teen boeliegedrag vestig);
- die strewe na sosiale dominansie, invloed en mag wat ten koste van ander toegepas word;
- nabootsing van volwassenes se gedrag; en
- swak rolmodelle in onder meer realiteitsprogramme en op sosiale media.
Die inligtingsessies wat AfriForum se teenboeliespan aanbied, gee aan kinders waardevolle vaardighede. “Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer én hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om die gevare van boeliegedrag in die toekoms te voorkom,” benadruk Scheepers.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek gerus www.teenboelie.co.za.