|

AfriForum soek aksieplan vir herstelwerk aan infrastruktuur in Rosestad

Die paaie en stormwaterafvoerpype in Bloemfontein is in ’n beroerde toestand weens ’n gebrek aan instandhouding en herstelwerk. Dít is egter vandeesweek vererger deur die groot hoeveelhede reën wat geval het. AfriForum eis nou dat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit dringend aan verskeie paaie en stormwaterafvoerpype aandag skenk voordat hierdie probleem verder handuit ruk.

Benewens grootskaalse skade aan voertuie in die Rosestad het die slaggate ook bygedra tot verskeie ongelukke op die paaie. Voorts veroorsaak die stormwaterafvoerpype wat nie onderhou word nie ook skade aan die stad se infrastruktuur en het selfs plek-plek tot klein vloede gelei wat die pad versper het. Verskeie voertuie moes ook uit die vloedwater gesleep word en die Mangaung-brandweer moes selfs ’n ambulans, wat besig was om ’n pasiënt te vervoer, uit die water sleep. AfriForum911 en die AfriForum-buurtwagte het ook in verskeie areas hulp aan die gemeenskap gebied om sover moontlik hul veiligheid te verseker.

In ’n skrywe aan die Mangaung-metro eis AfriForum dat daar, benewens dringende onderhoud- en herstelwerk aan infrastruktuur, ook ’n volledige plan aan die organisasie verskaf waarin daar gespesifiseer moet word wanneer die herstelwerk in die verskeie areas gaan plaasvind en hoe die metro te werk sal gaan om soortgelyke verval en agteruitgang te verhoed.

“Die Mangaung-metro is deeglik bewus van die probleme en dit blyk dat die metro eenvoudig kies om niks daaraan te doen nie. Die gemeenskap ly onder die metro se tekortkominge en moet die skade wat as gevolg van hierdie tekortkominge aangerig word uit hul eie sak betaal,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Groenewald voeg by dat die metro aanspreeklik gehou moet word vir die gebrek aan onderhoud aan infrastruktuur.

Die Mangaung-metro het sewe dae om op AfriForum se versoek te reageer en met die aksieplan vorendag te kom. Die organisasie sal verdere stappe doen indien die metro nie werk maak van die probleem nie.

Soortgelyke plasings