|

AfriForum slaan toe op vermeende veediewe, vind bykans R1 miljoen se gesteelde beeste in Mpumalanga

Klankgreep: Hennie Bekker (Afrikaans)
Klankgreep: Hennie Bekker (Engels)

AfriForum se nuwe opleidingsmodule in veediefstalbekamping het reeds vrugte afgewerp toe lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag sedert Saterdag toegeslaan het op vermeende veediewe en in twee afsonderlike operasies beslag gelê het op 64 gesteelde beeste. Die waarde van die gesteelde vee word op nagenoeg R960 000 gereken.

In die jongste voorval het die Delmas Valke vanoggend elf verse wat gisternag op ’n plaas buite Delmas gesteel is, teruggevind. Die operasie wat omstreeks 10:00 vanoggend in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangepak is, volg op inligting wat ontvang is oor die gesteelde beeste wat in Botleng, buite Delmas, opgemerk is. Die polisie het intussen beslag gelê op dié beeste wat met vars bloed aan hul ore (waar die oorplaatjies verwyder is) en nuwe brandmerke, in Botleng gevind is. Niemand is nog in verband met dié voorval aangekeer nie.

Een van die verse wat gisternag gesteel is, met ’n nuwe brandmerk sigbaar op die boud.

In ’n onverwante voorval, het die Delmas Valke die afgelope naweek, as deel van die praktiese komponent van hul opleiding en in samewerking met die SAPD se veediefstaleenheid inspeksies onderneem by twee afsonderlike veeveilingskrale op Sundra. Na afloop van die naweek lange operasie is beslag gelê op ’n totaal van 53 gesteelde beeste.

Buurtwaglede het Saterdag tydens inspeksies by die veilingskrale nege koeie uitgeken wat vermoedelik gesteel is en wat die vermeende veediewe beplan het om by die veiling van die hand te sit. Nadat die aandag op dié diere gevestig is, is dadelik opdrag gegee dat die diere nie opgeveil mag word nie.

Een verdagte is in verband met dié span beeste aangekeer vir ondervraging. Die SAPD se veediefstaleenheid is nou op die spoor van nóg twee verdagtes wat vermoedelik gesteelde vee na dieselfde veiling gebring het om verkoop te word.

’n Boer van Bethal het intussen die diefstal van 45 beeste by die SAPD se veediefstaleenheid aangemeld en die nege veilingskraalkoeie kon suksesvol as sy eiendom geëien word.

Die aangekeerde verdagte het die laaiplek van die gesteelde beeste op ’n terrein buite Hendrina aan AfriForum en die SAPD uitgewys. ’n Verdere 20 beeste waarvan die ore afgesny is, is op die toneel gevind. Dié skending is waarskynlik gedoen om die beeste se tatoeëermerke wat hul aan die regte eienaar sal verbind, te verwyder. Daar word vermoed dat die beeste afkomstig is van ’n plaas in die Hendrina-distrik. ’n Afgesnyde oorplaatjie van een van die veilingskraalkoeie is ook op die toneel gevind.  

Na afloop van ’n opvolgoperasie het die SAPD met AfriForum se bystand teen Sondag nóg beeste wat deur dieselfde veediefstalnetwerk gesteel is, opgespoor. Spore is oor ’n afstand van nagenoeg 20 km gevolg, maar ten spyte van die vermeende veediewe se vernuftige pogings om hul eie en die vee se spore te verdoesel, het die buurtwag-, polisielede en die boer wie se vee gesteel is, met fyn spoorsnywerk daarin geslaag om die diewe te uitoorlê.

Teen gistermiddag is ’n totaal van 53 koeie – waaronder 33 van die Bethal-boer se 45 gesteelde koeie – reeds teruggevind.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, is twee verdagtes steeds voortvlugtig. “Die operasie was egter ’n reusesukses en benewens die koeie wat teruggevind is, is daar ook waardevolle inligting ingesamel wat dui op die werk van ’n moontlike veediefstalsindikaat. Vervalste brandmerkdokumente wat gebruik is om die vee by die veiling in te teken sowel as ander persoonlike dokumentasie van een voortvlugtende verdagte is belangrike bewysstukke wat sal verseker dat die net nouer gespan kan word rondom dié vermeende veediewe wat boere in die streek teister,” verduidelik Bekker.  

Die polisie se ondersoek duur intussen voort. AfriForum staan die veediefstaleenheid by met inligting en hommeltuie indien dit verder benodig sou word.

AfriForum slyp tande (en vaardighede) om veediewe vas te trek

AfriForum se eerste aanlyn opleidingsessie van sy splinternuwe opleidingsmodule in veediefstalbekamping is verlede week (18 Junie) aangebied. Dié nuwe module is daarop gemik om veediefstal – ’n multimiljoen rand misdaadprobleem – te takel. Buurt- en plaaswaglede van oor die hele land heen het ingeskakel vir hierdie sessie waarin opleiding gebied is oor verskeie kritieke kwessies in die bekamping en identifisering van dié misdaad, insluitend veevervoerpermitte, vee-identifikasie, toneelbewaring en veedokumentasie en -veilings.

Die omvang van veediefstal in Suid-Afrika

Minstens 80 600 skape, 55 700 bokke en 53 600 beeste is die afgelope finansiële jaar in Suid-Afrika as gesteel aangemeld by die SAPD. Hierdie nagenoeg 190 000 stuks vee sowel as kleiner hoeveelhede varke, hoenders, wild, donkies en volstruise wat gesteel is en waarvoor 25 606 klagtes by die SAPD aanhangig gemaak is, vorm deel van ’n misdaadbedryf wat lank nie net meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad is nie. Veediefstal het deur die jare omvorm tot ’n gesofistikeerde misdaad waarin sindikate telkens aktief is en is ’n bedryf wat ernstige risiko’s inhou vir die finansiële voortbestaan en vooruitgang van boerdery in die land.

Diefstal van skape, bokke en beeste soos aangemeld by die SAPD in 2024/2025

Luidens berekeninge wat AfriForum onlangs oor die omvang van veediefstal in die vierde kwartaal van 2024/2025 (dus Januarie tot Maart 2025) gemaak het, het veediefstal die landboubedryf in dié drie maande van minstens R200 miljoen in direkte verliese gestroop. Konserwatief gereken het die diefstal van beeste, skape en bokke alleen die bedryf in die twaalf maande vanaf April 2024 tot Maart vanjaar nagenoeg R880 miljoen in direkte verliese gekos. Dié bedrag sluit egter nie bykomende verliese soos die verlies aan potensiële aanwas in nie. Kenners reken dat slegs sowat 30% van veediefstal aangemeld word, wat beteken dat die werklike omvang van veediefstal en die gevolglike finansiële verliese weens dié misdaad aansienlik meer is as wat dit op die oog af lyk.

Soortgelyke plasings