AfriForum sê terugskuif van SAUK TV-nuus bewys waarde van openbare druk
Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Soundbite: Alana Bailey (English)
AfriForum verwelkom die aankondiging dat die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se Afrikaanse TV-nuusbulletins van Julie af na ’n vroeër tydgleuf sal terugskuif en dat alle bulletins moontlik ook weer slegs op SABC2 uitgesaai sal word. AfriForum het van meet af aan teen die verskuiwing van die uitsaaitye en -kanale beswaar gemaak en gewys op die verlies aan kykers en advertensie-inkomste wat dit mag inhou. Sedertdien het die kykerspubliek se reaksie bevestig dat die kommer geregverdig was.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, bewys die ommekeer op die waarde van openbare druk. “Die SAUK se bestuur erken dat die heftige reaksie van instellings soos AfriForum en die breër publiek hulle hierdie besluite laat heroorweeg het, wat bevestig waarom mense aan veldtogte en petisies teen onsinnige besluite van openbare instellings moet deelneem,” sê sy.
Bailey meen verder dat dit tragies is dat die deurvoer van ondeurdagte of ideologies-gedrewe besluite eers groot skade moet aanrig, voordat erken word dat dit foute was. “AfriForum verwelkom ondernemings dat meer aandag voortaan weer aan Afrikaanse programme en nuusbulletins geskenk gaan word, maar ongelukkig is die skade reeds gedoen. Daar is geen waarborg dat verlore kykers en adverteerders weer teruggelok sal kan word nie.”
“AfriForum het op 9 April 2025 ’n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Geen reaksie is nog hierop ontvang nie en AfriForum het dus verlede week die versoek met ’n appèl opgevolg. Daar sal ook gemoniteer word of die SAUK by die jongste ondernemings bly,” voeg Bailey by.
Sy beklemtoon dat die SAUK vir baie mense die enigste TV-nuusdiens is waartoe hulle toegang het en dat dit daarom belangrik is om te verseker dat die diens voortgesit word en volhoubaar bestuur word.