AfriForum se Strand-tak speel rol in bestryding van brand in Gordonsbaai
AfriForum se Strand-tak het op 21 Oktober ’n belangrike rol gespeel in die bestryding van ’n brand in Gordonsbaai. Plantegroei by Roete 44 in Clarence-weg het verwoed gebrand, terwyl die organisasie Overberg Fire & Rescue en verskeie ander nooddienste ondersteun het.
Met AfriForum se aankoms op die toneel, was daar slegs een brandweerwa. AfriForum het onmiddellik ’n gesamentlike operasionele sentrum opgestel waar alle nood- en veiligheidsdienste doeltreffend kon kommunikeer en saamwerk om die brand onder beheer te kry.
AfriForum het ook gehelp om verkeer te reguleer, omdat een baan op hierdie roete gesluit was vir verkeer en daar toe nou slegs een baan oop is, wat ’n gevaar ingehou het omdat dit ’n kuspad is. Kommunikasie kon dus uitstekend plaasvind tussen alle rolspelers wat verseker het dat die brand veilig en doeltreffend onder beheer gebring is.
AfriForum se Strand-tak bedank sy buurtwag, Stad Kaapstad se nooddienste en natuurbewaringsafdeling, Overberg Fire & Rescue en die provinsiale verkeersafdeling vir hul hulp op die toneel.
“AfriForum se Strand-tak reageer altyd op noodgevalle wat ons gemeenskap raak om te verseker dat almal veilig tuis kan terugkeer,” sê Kiara Brown, voorsitter van AfriForum se Strand-tak.
Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-takke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.





