|

AfriForum se Nylstroom-buurtwag reageer op huisbrake tydens massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Limpopo het op 11 April in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan AfriForum se nasionale massapatrollie deelgeneem. Hierdie patrollie het 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend geduur. Die doel van hierdie patrollies is om sigbaarheid in die onderskeie areas in Limpopo te verhoog en sodoende misdaad teen te werk.

Altesaam 137 AfriForum-patrolleerders in Limpopo het aan die patrollie deelgeneem en 3 822 km in 92 voertuie afgelê. Die AfriForum-buurtwag in Modimolle het op twee huisbrake gereageer en die rowers saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens se honde-eenheid agternagesit. AfriForum se hommeltuig is ook ingespan in ’n poging om die rowers op te spoor, maar hulle het gevlug. Die buurtwag het gehelp om die tonele te beveilig.

“Ek is baie trots op die Limpopo-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe om te sien. Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se hoof vir die noordstreek.

AfriForum wil graag elke buurtwaglid en ander rolspelers wat deelgeneem het bedank vir hulle bereidwilligheid om hul tyd, selfs op ’n Vrydagaand, op te offer om hul gemeenskappe veilig te hou.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings