AfriForum se Noord-Kaap-takke gerat om hul gemeenskappe veilig te hou
Verskeie AfriForum-tak- en buurtwagbesture in die Noord-Kaap het op 17 Mei die organisasie se beraad vir die sentraal- en Noord-Kaapstreke in Bloemfontein bygewoon. Takke en buurtwagte wat verteenwoordig was, sluit in Kathu, Vaalharts, Delportshoop, Upington, Keimoes, Bo-Karoo en Kimberley.
Hierdie jaar se beraad het op gemeenskapsveiligheid gefokus en is op ’n baie interaktiewe wyse uitgevoer. Die primêre doel van dié beraad was om takke en buurtwagte met die nodige kennis toe te rus om hulself binne die riglyne en die raamwerk van die wet te beveilig, sonder om van statutêre instansies daarvoor afhanklik te wees.
Verteenwoordigers van die takke en buurtwagte kon tydens die sessies aan praktiese oefeninge deelneem. Die lede is geleer hoe om ’n kaart van hul eie gebiede voor te berei en om ’n kaartontleding te doen, ten einde hulle in staat te stel om weldeurdagte inligtingsgedrewe operasies en patrollies uit te voer. Die dagprogram het insiggewende sessies ingesluit oor plaaslike vryheid, gemeenskapsveiligheid, strategiese situasies in Suid-Afrika en praktiese deelname aan die steunkringontleding en die gepaardgaande opstel van gebeurlikheidsplanne vir drie moontlike scenario’s. Die Noord-Kaapse verteenwoordigers het die byeenkoms inspirerend en prakties bruikbaar gevind.
Luidens een van die bywoners het hulle waardevolle kennis opgedoen wat hulle dadelik in hul takke wil begin toepas om prakties uitvoerbare gebeurlikheidsplanne op te stel, in samewerking met die gemeenskap en alle ander veiligheidsrolspelers.
“Die beraad gee ons nie net rigting nie, maar ook nuwe moed en energie om ons gemeenskappe van onder af te versterk,” sê Johan Snymann, AfriForum se voorsitter van die Kathu-tak.
“AfriForum se streeksberade bied aan takbesture en vrywilligers die geleentheid om netwerke te bou, kennis te deel en planne te beraam vir doeltreffende gemeenskapsaksies,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se streekshoof vir die Noord-Kaap. “Ons takke en buurtwagte sien daarna uit om die beginsels en praktyke wat met hulle gedeel is, plaaslik toe te pas vir ’n selfstandige en veilige toekoms,” sluit Van Dalen af.