|

AfriForum se Krugersdorp-buurtspan sny gras dat die stof staan!

AfriForum se Krugersdorp-tak het reeds vroeg in Maart daad by die woord gevoeg en twee keer per week op verskeie plekke in dié dorp skoongemaak en gras gesny. Die buurtspan het gras gesny by drie ouetehuise en 30 sakke vol vullis reg oor die dorp verwyder.

AfriForum het vroeër vanjaar ’n skrywe aan die Mogale Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor dienslewering in dié dorp veral ten opsigte van die buurtspan se grassny-aksies by toegegroeide kruisings wat gevaarlik is vir motoriste.  Die Krugersdorp-tak het ook in hierdie skrywe ’n hand van samewerking na die munisipaliteit uitgesteek.

Sedert AfriForum se Krugersdorp-buurtspan op die been gebring is, het dié span nie gras onder hulle voete laat groei nie. Die span het onder meer al gras gesny by Jack Cotton Ouetehuis, President Ouetehuis, Paul Kruger-straat en by twee gevaarlike kruisings op die hoek van Kameelperdlaan en Sterkfonteinweg, en die hoek van Swanevelderweg en Robert Broom-rylaan.

“Ons bly van mening dat AfriForum en die Mogale Plaaslike Munisipaliteit ’n samewerkingsooreenkoms moet sluit sodat ons kan help om dienslewering in Krugersdorp te verbeter. AfriForum sal ook vra vir ’n vergadering met die belanghebbendes sodat hierdie probleem opgelos kan word en daar beter samewerking kan wees,” sê Sampie Steinberg, streekhoof vir die noordstreek by AfriForum.

Besoek www.wordlid.co.za en kies Krugersdorp as jou tak om vandag nog betrokke te raak en ’n verskil te maak. Ondernemings wat belangstel om van die AfriForum-buurtspan gebruik te maak is welkom om vir Bianca Maré te kontak by 079 390 3122.

Soortgelyke plasings