|

AfriForum se Kaap Agulhas-tak sluit formele samewerkingsooreenkoms met munisipaliteit

AfriForum se Kaap Agulhas-tak het op 8 September ’n belangrike mylpaal bereik met die ondertekening van ’n formele samewerkingsooreenkoms met die Kaap Agulhas Munisipaliteit. Hierdie stap lê die grondslag vir ’n nuwe era van samewerking tussen die burgerlike samelewing en plaaslike regering, met die doel om dienslewering te verbeter en die lewensgehalte van inwoners te verhoog.

Die plaaslike AfriForum-tak het die afgelope jaar bewys dat hulle bereid en in staat is om ’n betekenisvolle verskil in die omgewing te maak. Tot dusver vanjaar is 6 ton teer aan die munisipaliteit geskenk om paaie te herstel, meer as 100 straatname in Bredasdorp en Struisbaai is geverf om padveiligheid te verbeter en ’n AfriForum-buurtwag is in Struisbaai gestig om die veiligheid van inwoners te bevorder. Hierdie projekte bewys dat die tak ’n  wesenlike bydrae kan lewer met praktiese oplossings vir probleme in belang van die gemeenskap.

Met die nuwe ooreenkoms word AfriForum in staat gestel om die munisipaliteit  met algemene dienslewering te ondersteun. Dit sluit in om te help met die herstel en opknapping van infrastruktuur, om mooimaakprojekte aan te pak wat die leefomgewing verbeter, asook die uitvoer van aanvullende oudits en die onafhanklike monitering van watergehalte en vullisterreine. Hierdie funksies is daarop gemik om deursigtigheid en doeltreffendheid te bevorder en om seker te maak dat die gemeenskap die dienste ontvang wat hulle verdien.

’n Belangrike deel van die ooreenkoms is dat die munisipaliteit sy volle ondersteuning aan AfriForum se gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe sal verleen. Hierdie samewerking sal verseker dat gemeenskappe veiliger gehou word deur gesamentlike pogings om misdaad te voorkom en algemene wetstoepassing te bevorder.

“Ons glo dat ware vooruitgang moontlik is wanneer gemeenskappe en plaaslike owerhede hande vat. Hierdie ooreenkoms is ’n bewys dat ons bereid is om te bou en saam te werk – nie net vir vandag nie, maar ook vir die toekoms van elke inwoner van Kaap Agulhas. Ons doel is om te verseker dat almal in ons gemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan leef,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Sluit vandag nog aan by die Kaap Agulhas-tak en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf