AfriForum Sakenetwerk verkies loodskomitee om gemeenskapsgroei in die Paarl te bevorder
AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in die Paarl het verlede week ’n loodskomitee verkies om dié sakenetwerk goed op die been te bring. Hierdie loodskomitee gaan, onder leiding van sy voorsitter, sy aandag daarop vestig om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou.
AfriForum Sakenetwerk se loodskomitee in die gebied is op 20 Maart verkies en bestaan uit Theunis Fick (Cyclops Security Solutions) as voorsitter en Deon de Jager (AfriForum se hoof van die Suidstreek) as ondervoorsitter. Die res van die loodskomitee bestaan uit Devon en Carmen Nicholas, wat verantwoordelik is vir die sosiale- en mentorskap-portefeulje.




Fick wil graag ander sakelui inspireer om, soos hy, eers te dink aan wat aan die gemeenskap teruggegee kan word. Sy visie en missie word deur die aanhaling van Mohammed Ali gedryf: “Service to others is the rent you pay for your room here on earth”.
Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê die nuwe loodskomitee gaan die ondernemings in die Paarl help om van krag tot krag te gaan. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap,” sê sy.
Enigeen wat wil inskakel by die Paarl se sakenetwerk, kan Deon de Jager (ondervoorsitter) by 066 562 2150 kontak.
AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.
Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.