AfriForum Sakenetwerk verkies bestuur om Durbanville-ondernemings te help groei
AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Durbanville het Woensdag ’n nuwe bestuur aangewys wat gaan help terugploeg in plaaslike sakeondernemings. Hierdie sakenetwerk is die derde van sewe plaaslike sakenetwerke – wat onlangs deur AfriForum Sakenetwerk gestig is – om ’n bestuur te verkies.
Die bestuur is verantwoordelik daarvoor om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou.
AfriForum Sakenetwerk se Durbanville-bestuur bestaan uit Azaan van Eeden (Van Eeden Tax) as voorsitter, Deon de Jager (AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture in die Suidstreek) as ondervoorsitter, Paul Tappan (Exitol Cleaning Supplies) as tesourier, Annelize Blom (entrepreneur) as koördineerder van die sosiale-portefeulje en Jan Steenekamp (Exitol Cleaning Supplies) as koördineerder vir mentorskap en opleiding.





Van Eeden vertel sy is baie opgewonde oor die nuwe verhoudings wat tussen plaaslike sakeondernemings gebou gaan word. Haar visie is om die plaaslike sakenetwerk in Durbanville te laat groei om ’n impak in en vir die gemeenskap te maak.
“Die stigting van dié plaaslike sakenetwerk en die aanstelling van ’n bestuur beteken dat ondernemings in Durbanville van krag tot krag sal gaan,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap,” sê sy.
Durbanville se plaaslike sakenetwerk se eerste netwerkgeleentheid vind op 11 April plaas. Enigeen wat by hierdie geleentheid baat kan vind, word genooi om met Azaan van Eeden (voorsitter) by 082 725 4888 te skakel vir meer inligting oor hierdie geleentheid.
AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.
Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.