AfriForum ruik ’n rot by Matlosana-munisipaliteit se rioolwerke
AfriForum bevraagteken die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se onbereidwilligheid om toestemming aan die organisasie te gee om besoek aan die onderskeie rioolwerke in die munisipaliteit af te lê. AfriForum wou watermonsters by die rioolwerke in Klerksdorp, Hartbeesfontein, Orkney en Stilfontein neem om te laat toets as deel van jaarlikse blou-en-groendruppel-verslag. Hierdie toetse is deel van AfriForum se #SkoonWater-veldtog wat sedert 2013 landswyd uitgevoer word om die gehalte van drinkwater en behandelde riooluitvloei te bepaal.
AfriForum het al in Julie ’n brief aan die Matlosana-munisipaliteit gerig om toestemming vir hierdie toetse by die rioolwerke te bekom. In reaksie op die skrywe is AfriForum van een amptenaar na die ander verwys, sonder dat iemand bereid was om amptelik toestemming te gee. Hierdie ontwykende houding bevestig die vermoede dat daar probleme by die rioolwerke is, wat doelbewus weggesteek word.
AfriForum het wel steeds besoek afgelê aan die rioolwerke in Klerksdorp. Ten spyte van die Noordwes Hooggeregshof se hofbevel van Julie 2025, wat die munisipaliteit verplig om Klerksdorp se rioolwerke te herstel en in ’n werkende toestand te kry, is daar egter tydens die besoek opnuut bevind dat daar nie noemenswaardige herstelwerk aan die gang is nie. Die riool word beslis nie verwerk nie.
Hartbeesfontein se rioolwerke is nie besoek nie, aangesien AfriForum al in die verlede daar weggejaag is, maar toe was die stank onuithoudbaar. Orkney se rioolwerke is ook nie sonder toestemming besoek nie, maar volgens ’n amptenaar van die Matlosana-munisipaliteit is die herstelwerk aan die gang.
In Stilfontein, waar ’n kontrakteur die rioolwerke bestuur, is AfriForum vriendelik ontvang en selfs gehelp om ’n watermonster te neem. Hierdie monsters het aanvaarbare resultate getoon – ’n bewys dat deursigtigheid en samewerking moontlik is waar daar politieke wil en verantwoordelikheid is en waar daar niks is om weg te steek nie.
“AfriForum sal die toetse wat wel gedoen kon word se resultate bekend maak in ons blou-en-groendruppel-verslag. Ons herinner die Matlosana-munisipaliteit aan sy grondwetlike plig om toegang tot skoon drinkwater en ’n gesonde omgewing te verseker. Gemeenskappe het die reg om te weet watter water hulle drink en watter impak riooluitvloei op hul gesondheid en leefomgewing het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Pretorius by 081 392 2071 en om by die Stilfontein-tak aan te sluit, kontak Jonathan Fourie by 082 776 4813.
